JESAJA 43:19

Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

Ek lees ʼn Interessante artikel in vanoggend se Beeld. Toekomskundige dr Morne Mostert  filosofeer oor die impak wat die wêreldwye pandemie, Covid-19  op ons manier van doen gaan hê. Trouens, dit het reeds gebeur, wil ek byvoeg. Die toekoms het aangebreek. Hy verwys onder andere na “versnelde” digitalisering as onafwendbaar vir alle sektore van die samelewing. Ons sien reeds hoe die kerk die inperking as ʼn geleentheid benut om die Boodskap van Hoop met mense te deel.

Hy gebruik die term “reinvent” , ʼn nuwe manier van dinge doen. My verstaan van die begrip is ʼn herdefiniëring van die wyse waarop ons tot nou toe reggekom het. Dat daar gevaarligte flikker, onder andere die militarisering van ons samelewing, hoe noodsaaklik dit ook al vir nou mag wees, is gewis. Ons moet versigtig wees in dié verband en ons vryhede met alles wat ons het beskerm.

Terug na die herdefiniëring van ons lewens. Ek dink dit is die ideale tyd om met erns na te dink oor die onderskeie segmente van ons bestaan en kwaliteitbesluite, nie soos nuwejaarsvoornemens nie, oor ons lewens te maak. Realisme is belangrik en een betekenisvolle aanpassing is beter as ʼn hele klomp idealistiese dagdromery wat nooit verwerklik sal word nie. Soos die gewaande nuwejaarsvoornemens ploeg dit teen die einde van die eerste week in die modder.

Dink derhalwe na oor die kontekste waarin jy jouself bevind, uiteraard met jouself, met God, die mense naaste aan jou, jou kollegas en sosiale kring, gemeente, die gemeenskap en selfs wyer.

Waar is ʼn koersaanpassing die aangewese ding om te doen?

Hoe moet dit lyk?

Hoe gaan dit bydrae tot die koms van God se Koninkryk?

Wat gaan jy inbou dat die voornemens nie weer versand nie?

Wie gaan jou aanspreeklik hou?

Waar gaan jy die tyd kry en hoe gaan jy jou bronne aanwend?

Hierdie is belangrike lewenskwessies. Om die 21 dae te laat verbygaan sonder deeglike besinning is tragies om die minste te se. TV kyk en tydskrifte deurblaai is aangenaam en nie verkeerd nie maar daar is belangriker dinge.

Mag die Here genade bewys dat ons nie agterbly terwyl Hy reeds aanbeweeg het nie.

Groete

Jannie Pelser

Organiseerder

ToekomsVenster