Desperaat vir aanraking

Mark 10:46

46          

Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en ‘n aansienlike menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar ‘n blinde bedelaar, Bartimeus, seun van Timeus, langs die pad.

Die paar verse (Mark 10:46-52) is kosbaar. Lees dit gerus ʼn paar keer hierdie week. Dit is mos die verrassende aard van die Here se Woord. Daar is altyd iets nuuts wat jy nie voorheen raakgesien het nie. Ek wonder stellig wat vir jou in die gedeelte uitstaan maar deel graag in die volgende paar dae dit wat my in die hart gryp. Vandag fokus ons op die persoon langs die pad. Matteus praat interessant genoeg van twee blindes. Lukas vertel van een maar gee geen besonderhede nie. Markus vertel ons sommer ʼn hele klomp goed oor hierdie man. Hy stapel die gegewens ast ware opmekaar.

·         Blind

·         Bedelaar

·         Bartimeus seun van Timeus

·         Langs die pad.

Probeer vir ʼn oomblik met hierdie persoon identifiseer. Wat spreek jou aan?

Die feit dat hy blind is, is belangrik. Dit beteken dat sy kom en gaan geïnhibeer word deur sy gebrek.

Fisiese gebreke maak ʼn mens nie minder belangrik of waardevol nie. Elke mens het waarde. Ek is in elk geval daarvan oortuig dat by verre die meeste van ons iewers iets het wat sg. nie  “ideaal” is nie.

Volmaaktheid is nie vir hierdie wêreld beskore nie. Daarvoor sal ons moet wag. Fisies, psigies, emosioneel, intellektueel, sosiaal, noem maar op, uitdagings is daar baie.

Omdat hierdie man blind was kon hy nie ʼn inkomste verdien soos ander nie. Derhalwe bedel hy om ʼn karige bestaan moontlik te maak.

Daar mag “professionele” bedelaars wees, maar ek kan myself nie indink dat dit iets is wat enige iemand gewilliglik sou wou doen nie.

Om te bedel is vernederend vir die persoon wat dit moet doen.

In ons dag het ons baie empatie met mense wat geen ander keuse het as om te bedel nie. Covid-19 het baie mense vir ʼn bedelbestaan geoormerk. Mag daar uitkoms kom vir diegene.

Bedelaars word somtyds kru behandel. Min mense sal bedelaars in hul vriendekring verwelkom. Bedelaars is dikwels verwaarloos, stowwerig en mistroostig. Hulle het gewoond geraak aan verwerping en onvriendelike opmerkings. Dit is waarskynlik nie veel anders in hierdie man se geval nie.

Markus doen moeite om die naam van die man te verneem. Hy het ʼn naam, hy is iemand se kind. Waarom sy familie nie na hom omsien nie is nie duidelik nie.

Dit mag wees dat die pa ook afhanklik is, die teks lig ons nie in nie. Feit van die saak – die man het ʼn naam.

Naam is identiteit, ʼn aanduiding van individualiteit, persoonlikheid en konteks.

Die man is ʼn beelddraer van die lewende God. God het hom nie vergeet nie. Hy sit langs die pad maar sy lewe staan op die punt om onherroeplik te verander.

Dalk is ʼn stukkie empatie met mense wat swaarkry gepas.

Die man langs die pad, by die stopstraat, op die sypaadjie, by die hekkie het ʼn naam, ʼn storie.

Dit is genade dat ek nie aan iemand se deur hoef te klop nie.