In gesprek met Hanlie Retief gee Mej. Heelal, Zozibini Tunzi toe dat daar tye is waar sy steeds oorweldig word deur ʼn gebrek aan selfvertroue en wonder of sy “genoeg” is.

Haar beskeie begin ten spyt kon sy uitstyg en ʼn sukses van haar lewe maak. Vandag verteenwoordig sy Suid Afrika internasionaal en bring hoop aan talle jongmense wat worstel met die vraag wat van hulle gaan word. Ons word in Suid Afrika geteister met verskeie uitdagings waarvan armoede en werkloosheid seker die vernaamste is. In gesprek op RSG vanoggend word gemeld dat talle jongmense in hul leeftyd nooit ʼn vaste betrekking sal hê nie.

Die vraag of “ek genoeg is” (do I have what it takes) uiters relevant. Ons word groot in ʼn samelewing waar net die beste, slimste mooiste en vinnigste die kroon dra. Vir gemiddeldes is daar nie plek nie en wie die mas nie kan opkom nie moet dikwels self sien kom klaar.

Feit van die saak is dat ons unieke individualiteit, persoonlikheid, gawe kombinasie en passie ons uitsonder tussen die res. God gebruik geen bloudruk meer as een keer nie. Elke patroon is uniek en eenmalig en God droom oor elkeen van sy kinders. Ps. 139 vertel juis met hoeveel sorg God ons in ons moederskoot aanmekaar geweef het. Ons identiteit lê in die eerste plek in wat Hy van ons sê. Daar kan geen twyfel wees dat Hy ons onuitspreeklik lief het nie en inderdaad die beste vir ons wil.

Die lewe gebeur, die huidige bestel is nie ideaal nie, na beide kante is daar onreg, diskriminasie en verontregting.

Jongmense is nie aandadig aan die stukkend van ons samelewing nie maar betaal die grootste en duurste prys. Ons jongmense, alle jongmense het hoop brood nodig. Mentors, opvoeders, geestelikes, ouer mense, vaders en moeders in die samelewing moet kinders voortdurend daaraan herinner dat hulle fenomenaal uitsonderlik is. Dit maak nie opgesmuk nie maar motiveer om ten spyte van en te midde van uit te styg en tenminste te probeer.

Ek wonder of jy ook met die verlammende negatiewe inspraak dat jy “nie genoeg” is nie, minderwaardig, onbelangrik, klein en onaansienlik, minder as, agterlik, dom ens. worstel. Jy weet mos dis ʼn leuen uit die hel. Glo ons God of glo ons die bose en die soms onnadenkende uitsprake wat mense maak.

Jy is genoeg.

Punt.

JESAJA 43:4

Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.

Ps. Luister gerus na ons nuwe program, Perspektief, op Radio Kansel, Woensdae 11h00 tot 1200 lewendig uit Pretoria.