Het jy genoeg water gegee?
Ek luister so in my op weg wees na Pretoria vir opnames by
Radio Kansel  half terloops na die radio.
Mens se gedagtes is mos dikwels op ʼn ander plek.
Ek word bewus hoe ʼn man uit ʼn landelike omgewing en  wat vandag baie suksesvol is, vertel van sy
kinderjare.
Soos alle kinders het hy ook verantwoordelikhede gehad. Hy
moes met ʼn emmer water gaan haal en sy pa se groentetuin natgooi. Die emmer was
swaar en het sy bene geskuur vertel hy. Somtyds het sy pa nadergekom nadat die
werk afgehandel is en ʼn tuinvurk in die grond gesteek om te bepaal of die water
darem dieper as die oppervlak bygekom het. Rooi gesig en verleë moes hy
meermale nog water gaan haal omdat sy werk nie na behore gedoen is nie. Die
lesse was kosbaar en het hom geleer om verantwoordelikheid te aanvaar en na behore
uit te voer.
Dié pragstorie het my laat dink aan die manier waarop ons as
Christene die opdragte van ons Vader uitvoer. Is dit net op die oppervlakte “natmaak”
of genoegsaam dat groei inderdaad kan plaasvind in en vir  die konteks waar God ons roep?
Ons kinders het ook maar kanse gevat (ek ook!!). Wanneer ek
vir hulle ʼn opdrag gegee het en hulle het dit nie na behore afgehandel nie was
ek uiteraard baie verontwaardig en het die werk as “vark kos” beskryf.
Hulle het presies geweet wat pa bedoel en dat oordoen hul
voorland was.
Die Here verdien die beste.
Ons kan teenoor mekaar dalk nog kanse vat en dink dat ons
daarmee kan wegkom.
Die Bybel sê ons werk sal eendag beoordeel word.
Goud, silwer en edelgesteentes teenoor hout, stoppels en
strooi. “Gered” sê die Bybel maar soos deur vuur heen.
Ek wil nie skaam kry eendag omdat ek afgeskeep het nie.
Jy ook nie.
Ons beste vir die Koning.
Ps Luister
gerus Radio Kansel Sondag 1300 vir n mooi gesprek met Fred Nel.
Skakel in op
TBN in Africa Saterdag 1400 op Toekomsvenster.
Ook Kruiskyk
Sondag 1200
Sien Maroela
media (www.maroelamedia.co.za/toekomsvenster) vir daaglikse inspirasie.
Al
Toekomsvenster se app. afgelaai?
Hoor graag
van jou info@toekomsvenster.co.za
Jannie Pelser