Ons is so bevoorreg.

Die Here sorg en versorg uitnemend en Ps. 23 is ʼn werklikheid.

Goedheid en guns al die dae van my lewe.

Ek verstaan God nie, waarom Hy vir my goed is terwyl ander swaarkry nie. Dis onbegryplik behalwe dat Hy wil hê dat ek uit dankbaarheid wat ek het met ander sal deel. Dis wat ons by Toekomsvenster probeer doen.

Appelpark se mense is spesiaal soos enige ander. Hulle het drome en aspirasies maar die geleenthede is nie altyd daar nie. Ons beplan ʼn reuse kersfunksie op 15 Desember wat deur ʼn paar dae se vakansie program voorafgegaan word. Ons hoop om groot en klein te bederf. Die tweede vleuel van die parkie wat nou reeds bekend is word dan oorhandig as ons genoegsame fondse kan bekom om dit af te handel. Sondag 16 Desember hou ons erediens.

Daar is ʼn taakspan wat ook vir volgende jaar beplan. Ons wil mense trots maak om daar te woon.
Verlede week het ons Jobstraat opgeruim. Bourommel, plastiek, onkruid is verwyder. Daar kort vullishouers en kennisgewingborde wat die gemeenskap aanmoedig om nie te strooi nie.

Sommige huise het nie ʼn enkele venster nie.
Verf sal die omgewing dramaties verbeter.

Die kinders droom oor fietse, skaatsplanke, elektroniese speletjies soos enige ander kind.
By die skool vertel hul maatjies waarheen hulle met vakansie vertrek. Vir die meeste is dit ver van hul werklikheid verwyder.
Die parkie sal dit vir hulle moet doen.

Daar is ʼn tiental jong seuns wat ambag wil doen maar die middele is nie daar nie.
Dis iemand se kinders, iemand wat nie kan bydra nie. Tensy ons help word die spiraal voortgesit.

Toekomsvenster het hande, middele en geld nodig. Sporttoerusting wat nie meer gebruik word nie maar in ʼn bruikbare toestand is. Geskenke vir seuns en dogters.

Gister ʼn foto gekry van twee manne wie se prostese (bene) totaal gedisintegreer het. Van loop is daar nie meer sprake nie.

Die Masedoniese stem is duidelik
Kom oor en help ons.

Daarmee wil ek nie vir ʼn enkele oomblik Appelpark se mense etiketteer nie. Dis God se mense daardie.
Ons het almal behoeftes.
Hulle dalk ʼn bietjie meer.

Toekomsvenster
Standard bank
420629645
Kode 015841
Madelaine 011 6652017

Groete, Jannie Pelser