Dit is nooit te laat nie!!

“As ek my lewe oor het gaan ek …”

Jy het seker al gehoor dat mense so praat. Dalk het jy dit selfs al gesê. Dit wat jy gaan doen sou jy nog ʼn kans kry verteenwoordig gewoonlik die ongerealiseerde drome van jou lewe. Die goeie nuus is dat dit nooit te laat is nie. Jy mag die volle realisering van jou droom nie beleef nie maar jy kan ʼn begin maak waarmee iemand anders kan aangaan. Ons land is steeds ryk aan moontlikhede vir mense wat inisiatief en waagmoed aan die dag le.

Iemand het gesê die begraafplaas is die rykste deel van Suid Afrika. Daar lê soveel gedigte wat nooit gedig is nie, boeke wat nooit publiseer is nie, besighede wat nooit begin is nie. Liedere wat nooit getoonset is nie, geleenthede wat nie benut is nie.

Hoeveel drome, potensiaal, moontlikhede ens.  vat jy saam met jou graf toe?

Toegegee, realisme is nodig. Ons moet ons gawes, kontekste, selfs beperkings verdiskonteer. Dit beteken steeds nie dat ek jy nie iewers verbeeldingryk kan inhoud gee aan die drome wat jy gekoester het nie.

Hoeveel bejaardes het nie al matriek geskryf, aan die Comrades deelgeneem, uit vliegtuie gespring of iets dergeliks nie. Soveel te meer as jou ideaal iemand anders se lewe kan verryk.

Ons land gaan gebuk onder skreiende armoede en werkloosheid.

Is daar iets wat jy daaraan kan doen?

Vaardighede wat jou ʼn leeftyd geneem het om te verwerf nou met iemand anders deel, hulle leer lees, skryf, die rekenaar gebruik.

Resepte lees en lekkernye voorberei, lewensvaardighede oordra. Selfs ʼn betekenisvolle verhouding met iemand aanknoop!!

Dis nie te laat nie.

Vandag kan betekenisvol wees.