“When a star is born” is na my gevoel ʼn goeie rolprent maar ontstellend en hartseer.

Rolprente en stories het die vermoë om my geweldig te ontstel. Ek onthou hoe my ouers my as kind moes troos wanneer ons na ʼn hartseer fliek gaan kyk het. “Dis nét ʼn storie” het my pa my getroos.

Vandag weet ek beter.

Dis nie nét ʼn storie nie, dis iemand, somtyds my eie verhaal.

Die lewe is nie ʼn verlengde wittebrood nie.
Dis by tye ontstellend en selfs wreed.
Die nagevolge van die sonde het ons wêreld baie stukkend gemaak. Aandnuus is daarvan klinkklare bewys.

Die hoofkarakter is ʼn merkwaardige sangeres wat na baie jare se droom ʼn geleentheid kry. Haar gevoel van minderwaardigheid le diep gebêre en sy is daarvan oortuig dat haar liedere nie veel om die lyf het nie.
Die ander hoofkarakter, eweneens ʼn musikant, help haar om haar gevoel van verwerping te oorkom. As sy eers die verhoog met hom deel is daar geen keer nie. Terwyl dié barmhartige samaritaan hom al hoe meer aan drank en dwelms oorgee neem haar loopbaan hand oor hand toe.

Sy is ʼn oornag sukses maar die onsekerheid bly knaag. Iewers sê hy, “as jy nie eers in jouself glo nie, hoe verwag jy dat iemand anders dit sal doen?”
Die ewige gevoel van minderwaardigheid.
Hoe lank sal ons daarmee worstel?

God het jou goed gemaak. Jy het enorme potensiaal. Daar is iets wat net jy kan doen. Niemand kan dit jou nadoen nie, nie soos jy dit sou gedoen het nie. Jy mag nie die voorblaaie haal nie maar dit te neem niks weg van jou unieke self nie.

Ontdek vir ʼn slag wie jy is.

Begin glo dat God dit met jou goed bedoel.
Bied jouself sonder verskoning aan die wêreld aan.
Wat hulle daarmee maak is hulle saak. Jy moet net getrou wees. Dan sal jy eendag hoor wat jy so graag wil hoor..mooi so goeie en getroue dienskneg..

Groete, Jannie Pelser