Jannie Pelser is ʼn bekende musikant, sanger, prediker en media persoonlikheid en sedert Maart 2017 in ʼn vryskut bediening nadat hy vir 32 jaar aan die Rant-en-Dal prisma gemeente verbonde was.

Jannie is in Uitenhage gebore maar het in Gauteng en die Vrystaat grootgeword. Hy studeer aanvanklik B Comm Rek. aan die Universiteit van Pretoria en begin as onderwyser by Clapham High werk. Gedurende hierdie tyd, en nadat hy geloofsekerheid gekry het, oortuig die Gees van die Here hom om as predikant te studeer. “Van kleintyd af het ek die droom gekoester om die Woord te verkondig”, sê Jannie.

Hy trou met Suzette en vier (wonderlike) kinders word tot die gesin toegevoeg. Vandag is hulle jong volwassenes wat hul plek in die samelewing volstaan. Karlu en Juvan (kleinkinders), is Jannie en Suzette se trots. “Niks kom by oupa wees nie!”, verklaar Jannie met oortuiging. (ek sou

Jannie het al verskeie inisiatiewe van stapel gestuur, onder andere die Jesus-projek wat die misbruik van God se Naam in die media aangespreek het. Hy het na Hollywood gegaan om daar met rolspelers te gesels. “Dinge het nie dramaties verander nie, maar Hollywood kan nie sê dat hulle nie gehoor het nie. Ons het na my besoek duisende briewe en pamflette na rolspelers daar gestuur. Ek glo daar het tog wel ʼn sensitiwiteit gekom vir hierdie belangrike saak.”

In 2014 het Jannie ToekomsVenster in die lewe geroep met die doel om gelowiges toe te rus vir die eise wat ʼn snel-veranderende wêreld aan hulle stel met energie, integriteit en oortuiging te hanteer. By ToekomsVenster word stiltetyddagboeke, klein- of selgroep DVDs, asook preeksketse wat deur individue en gemeentes gebruik word, voorberei. Verder word daar klaar-verpakte programme vir Afrikaanse radio/internet (audio) en TV geproduseer. Byvoorbeeld: ‘n weeklikse erediens en ateljee-formaat-prediking gepas vir Sondag-uitsending, daaglikse meditasies met ondersteunende musiek, die Markus-evangelie in 100 daaglikse meditasies met ondersteunende musiek, ‘n daaglikse boekvoorlesing uit “Manne van die Woord”-dagboek, ‘n weeklikse TV-joernaalprogram en ook ‘n weeklikse Christelike perspektief op die nuus-van-die-dag soos in die media gerapporteer.

Vroeer in die jaar het Jannie die SA Pray gebedsinisiatief tussen twee belangrike geestelike merkers – Hemelvaart en Pinkster – geinisieer en gereel. Die inisiatief het diversiteit in Suid-Afrika binne een gekoördineerde gebedsinisiatief geakkommodeer. Dit was ‘n landwye oproep om ernstig te bid vir ons land in ʼn tyd van ongekende uitdagings.

Meer onlangs het hy sy agtste Gospel-CD “Vat my Hand” bekend gestel. Jannie se geloofsreis en groei word in die lirieke en musiek, waarvan hy die meeste self geskryf het, op hierdie inspirerende, pragalbum verwoord.