Wow, daar ís hoop.

Ek lees vanoggend ʼn artikel wat geplaas is op ʼn baie groot Afrikaanse webwerf (Maroela media) en wat worstel met die vraag hoe dit met ons in Suid Afrika gaan. Die skrywer, Herman Toerien, verwys sydelings na die realiteite waarmee ons daagliks gekonfronteer word wat dinge soos korrupsie, staatskaping, plaasmoorde en ander ontstellende dinge insluit. Nie minder as 84 mense reageer voordat die terugvoer geleentheid afgesluit word nie.

By verre is die meeste van die reaksie negatief, ontstellend en hartseer. Sommige verlang daarna om te immigreer terwyl ander vertel hoeveel trauma hulle tuis beleef nadat hulle tyd oorsee deurgebring het. Een respondent sê selfs dat sy Suid Afrika haat. Daar is darem een reaksie wat vra of respondent nie buitegewoon sinies is nie.

Ek is dankbaar dat daar forums soos hierdie bestaan waar mense hul vrese en teleurstelling kan verwoord. Dit is baie nodig.

Ek sien ook twee ander artikels raak wat op Netwerk 24 verskyn het. Beide is geskrywe deur jong studentE waarvan Juvan Veldsman van die Noordwes Universiteit een is.

Hy verwys na ʼn onlangse geleentheid toe hy as fasiliteerder moes optree by ʼn jeugberaad wat deur die ATKV gereël is. Die leerlinge, almal in graad 9 en 16 jaar oud moes worstel met die eietydse problematiek van ons geknelde land.

Hy word verras deur die aansteeklike entoesiasme van hierdie jongmense oor die toekoms. Werkbare oplossings word op die tafel geplaas en die atmosfeer is swanger met hoop.

Juvan sien ʼn Suid Afrika wat twintig jaar van nou af die spreekwoordelike land van melk en heuning geword het. Hoop vir hom is ʼn gevoel van kinderlike opgewondenheid, ʼn helder atmosfeer en ʼn gevoel van WOW, alles gaan OK wees.

Henri Uys van die Universiteit van Pretoria wys daarop dat Suid Afrika ʼn wonderlike klimaat het, in ʼn groot mate natuurrampe en terreur gespaar word, ʼn kleurryke volkeverskeidenheid het en ook dat elke land tog maar sy eie probleme het. Vlug is vir hom nie die aangewese weg nie maar dat ons land, Suid Afrika, te midde van uitdagings, baie het om te bied.

Ek wonder of ons as ouer Suid Afrikaners nie ons kinders ʼn groot onreg aandoen deur somtyds so negatief en uitsigloos te wees nie? Baie beveel by hul kinders aan om die land te verlaat en ʼn heenkome op ʼn ander plek te gaan vind.

Die belangrikste gawe wat ons aan mense kan gee is hoop.

Ons moet dit die opgroeiende generasie nie ontneem nie.

Hoop stel nie teleur nie.

Geloof,hoop en liefde

Die grootste van die drie

Hoop.