Worteldiep

Kol.2: 6 

Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe,  in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.

Dis heerlike lente en die winter is verby. Die groen loof wat aan die bome verskyn maak ʼn mens opgewonde en lus vir die lewe. Die lug is vars en die voëltjies verwelkom elke nuwe dag vroeg soggens. Dis planttyd, struike en bome en blomme en grasse. Die kwekerye is buitegewoon besig en die eienaars lag al die pad bank toe. Die droë winter maande is verby en almal maak tuin. Water is ʼn uitdaging maar ons kan daarby aanpas. Slim plant en slim koop en siedaar.
Die brose plantjies (hoe groter hoe duurder nie waar nie) word sorgvuldig aan die aarde toevertrou. Nou moet die plantjie sterk word deur sy wortels stewig te sprei. Die voedingstowwe wat onder die grond begrawe is moet sorgvuldig onttrek word sodat die plant wasdom kan bereik. Ons teks sê “in Hom gewortel”. Alles wat ons nodig het om volledig mens na God se bedoeling te wees is in Christus die Here. Ons moet soos Ps. 1 so mooi sê “geplant by waterstrome” vrugte dra wanneer dit tyd is. Plante wat nie worstel skiet in die grond nie kom leweloos en onvriendelik voor. Welige plante getuig van vastigheid en sekerheid. Die wind kan maar waai, hulle is geanker.

Gebed
Liewe Here ek wil my wortels diep sprei in die genade grond van die hemel.

Vraag
Ek is gaande oor rose. Dit ruik na genade. Ek wonder wat plant jy en waaraan dit jou laat dink. Vertel (comment)  bietjie.


p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}