What would Jesus do?

In die onlangse verlede het die berig van ʼn pa wat sy kind van die sinkhuis waarin hulle woon se dak afgooi die verbeelding aangegryp en emosies gaande gehad. Die ouers woon in ʼn eenvertreksinkhuisie wat onwettig in die Joe Slovo woongebied buite Port Elizabeth opgerig is. Die owerhede het begin om die strukture af te breek wat aanleiding gegee het tot hierdie desperate optrede. Mens se eerste reaksie is een van totale ongeloof, skok en veroordeling. Hoe kan enige ouer wat sy sout werd is dit aan ʼn baba dogtertjie doen? Die polisieman wat haar betyds gevang is word as ʼn held geloof en deur die Here se genade het die dogtertjie geen beserings opgedoen nie. Volgens mense wat weet is sy te klein om enige iets van die nare ervaring te onthou en behoort dit geen emosionele letsels by haar te laat nie. 
Ek luister in die week na ʼn program op radio waar ʼn simpatieke joernalis hierdie saak bekyk vanuit die psigologie van armoede. In gewone Afrikaans, wat doen armoede aan ʼn mens.
Armoede volgens hierdie definisie is die ongeveer 18 miljoen mense wat as huishouding met minder as R700 per maand moet oorleef. Die nare gesig van armoede bereken dat ongeveer 30 miljoen mense in ons land in armoede leef. Dit beteken dat bykans die helfte van ons samelewing hulself in hierdie benydenswaardige situasie bevind.
Ons sien die gesig daarvan oral. Die naaste informele behuisingskompleks, net die manier waarop daarna verwys word is reeds ʼn onreg want dit is in die meeste van die gevalle krotbuurte wat sonder sanitasie, water en elektrisiteit probeer oorleef. Die kinders bedelend op die straathoek, vroue met babas en bejaardes wat aan die hand gelei word tussen die motors deur. Ander voer toertjies uit, maak mimiekagtige bewegings om motoriste te vermaak. Anders beklae hul lot met woorde soos geen inkomste, vier kinders om te versorg, kanker, sal enige werk doen, God bless. So kan ʼn mens aangaan ..en ja ek weet daar ʼn mens wat doodgewoon werksku is en verkies om op straat te wees. Ondoeltreffende staatsgekaapte en korrupte plaaslike regerings moet ʼn groot deel van die skuld kry, maar …sê dit vir die kinders!!
Die probleem is dat ʼn mens niks verder vorder in jou oorweging van hierdie werklikheid en die soek na oplossings voor jy nie verby jou eie vrese, vooroordeel en selfs rassisme beweeg het nie. Waar oor hierdie sake in die sosiale media berig word is soveel van die kommentaar wreder as die armoede waarin die mense leef. Ander opmerkings het natuurlik meriete, baie meriete. Die owerheid, die afhanklikheidssindroom en kultuur in arm gemeenskappe wat van sosiaal maatskaplike bydraes van owerheidswee afhanklik is, die bykans ongekontroleerde bevolkingsaanwas om maar ʼn paar te noem. Die lys kan sekerlik  uitgebrei word.
Die werklikheid is dat ʼn mens makliker kritiseer as jy dit vanuit ʼn posisie van bevoorregting doen. Suid Afrika is tans as my geheue my nie in die steek laat nie die mees ongelyke samelewing ter wêreld. As bevoorregte het ek toegang tot middele, geleenthede en bronne wat vir mense in radikale armoede ontoeganklik is. Daar raak jy doodgewoon weg in die bleek gesig van die massa.
Ek het ʼn passie vir kinders. Jesus het dit ook gehad. Enige samelewing moet ʼn passie hê vir sy kinders. Kinders mag nie swaarkry nie. N Samelewing wat sit en toekyk dat sy kinders gebrek ly is ʼn bedenklike en siek gemeenskap. Kyk in die oë van ʼn honger kind en noem dan die redes waarvan jy oortuig is van waarom hierdie kind nie vanoggend kos gehad het om te eet nie.
Dr Ben du Toit het onlangs ʼn artikel geskryf waarin hy die komplekse probleem van armoede op die tafel plaas. Die saak is nie eenvoudig nie. Ongebreidelde en akute armoede bring ʼn verlies aan selfwaarde wat op sy beurt aanleiding gee tot ʼn hele aantal uitwasse. Afhanklikheid van chemiese substans as ʼn manier van ontvlugting met geld wat jy reeds nie het nie wat deur gewetenlose sindikate uitgebuit word en mense na misdaad en geweld dryf ten einde die afhanklikheid in toom te hou. Ander wend hulle tot prostitusie en wie al moeite gedoen het om die duister wêreld van prostitusie te verken sal weet dat dit ʼn gestadigde dood beteken. Kinderverwaarlosing is een van die nare gevolge van armoede, kroniese leefstylverwante siektes, en so kan ʼn mens aangaan.
Die oplossing is holisties en omvattend en gebeur nie oornag nie. Teoretiese oplossings en seminare oor armoede voed nie daardie kind wat vandag honger op die skoolbanke sit nie. Daardie ogies gluur ons elkeen aan.
In die onlangse verlede het vier kleuters van honger en ontwatering gesterf toe hulle veertien kilometer van hul ouma se huis in die veld gevind is. Hulle was onderskeidelik 2, 6, 7 en 9 jaar oud. Die bekende Solliman van Gift of the Givers het as volg reageer : 
“Ons het as nasie misluk, ons moraliteit, ons geestelikheid, dit was ons kinders in ons Afrika wat ʼn voorkombare dood gesterf het..dit is uiters pynlik”.
Gister is ek by ʼn plaaslike hoërskool waarvan ʼn groot deel van die studente uit ʼn naburige swartgemeenskap kom. Duisende mense leef in krot konstruksies wat hulle huis noem. Huis is meer as die struktuur, dis wat daar binne plaasvind. Dis deel van die probleem. Alles gebeur in daardie een vertrek ruimte waar daar van geen privaatheid sprake is nie.
Die hoof vertel dat hul hokkiespan aan ʼn wedstryd moet gaan deelneem. Tussen die elk lede is daar vyf paar skoene. Die helfte van die wedstryd speel die een klomp met skoene, trek dit dan uit en dan kry die ander geleentheid om dit te dra. Dis asof die Here se, nou weet jy daarvan, kan jy iets daaraan doen. Iemand vra, het hulle klere? Miskien is daar iemand wat geroep word om hierdie kinders en skool met die nodige te seën.
Dis nie net Munsieville waar nood bestaan nie. Ons werk ook in Appelpark ʼn brandarm woonbuurt in Krugersdorp waar kinders tot onlangs op straat gespeel het omdat daar geen fasiliteite was nie. Met hulp van oraloor kon ons ʼn lieflike speelparkie bou wat vir ten minste ʼn deel van die kinders voorsiening maak. Die groter kinders is steeds op straat en ons probeer alles om ook vir hulle iets tot stand te bring.
Agter die armoede is mense, mense wat huil en bloei en droom totdat hulle omstandighede hulle ook van hul drome beroof het. As ʼn mens die dag nie meer droom nie bly daar niks oor nie.
Een van die dae is dit weer matriekafskeid. Ek weet ek begeef my op ʼn baie gevaarlike terrein. Die wyse waarop die uiteraard betekenisvolle en strategiese geleentheid ontwikkel het spreek van ʼn radikale ontkenning van Suid Afrikaanse realiteite. Sal ouers en hul skoolverlaterkinders, ook onderwysers en leerlinge nie herbesin nie? Kan ʼn mens nie steeds al die opwinding hê sonder om in limosiene en helikopters te arriveer nie? Is dit in orde dat ʼn geselekteerde groep, ʼn klein groepie in uitspattige vertoon die grootmens wêreld betree terwyl ander skaars skoolfooie kan bekostig? Is dit rentmeesterskap?
Weereens, as ons net verby ons eie vrese, vooroordele, verskonings en verdediging kan kom en die ongemaklike vraag vra, what would Jesus do.