Welkom by sahuweliksweek

Welkom by sahuweliksweek. 

Dis ń voorreg om vir ń week lank intensioneel met jou huweliksverhouding besig te wees. 
Julle kan gerus terugblaai na Vrydag toe ek oor romantiek in die huwelik geskryf het. 
Gister het ons gesels oor die uniekheid van die huweliksvennote.


Vandag wil ek so ń bietjie gedagtes wissel oor die spirituele sy van julle verhouding. Die meeste mense trou onder die geklank van God se Woord. Die dominee speel mos ń belangrike rol en hy moet mooi preek oor hoe God die egpaar wil toerus vir die pad saam vorentoe.


Die meeste egpare is baie ernstig oor die plek wat God in die verhouding inneem maar onder druk van die sameweling enersyds en die wêreld andersyds raak daardie oortuiging op die agtergrond. Somtyds kom die egpaar eers weer by “die kerk uit” wanneer gedoop word. Die voorneme om erns te maak met hul geestelike lewe word herbevestig en net so gou weer vergeet.


Uiteraard mag dit nie so wees nie. Die Here is die begin en die einde van ons huwelik. Sonder Hom kan ons niks doen nie. God bring mense bymekaar. Benewens die feit dat hulle mekaar sal ondersteun en hul gesin vir die Here grootmaak is daar ook ander geleenthede om diensbaar te wees. Elkeen afsonderlik en die egpaar gesamentlik moet verantwoordelikheid aanvaar vir geestelike groei. Die verhouding met die Here mag nie stagneer nie. Sondag bied ń unieke geleentheid om in jul geestelike lewe te investeer. Egpare moet ń geloofsgemeenskap besoek waar hulle kan groei en waar hulle diensbaar kan wees. Betrokkenheid by ń  kleingroep kan sterk aanbeveel word. Dis ń  oefenruimte vir die geloofspraktyk.


Mag die Here julle wonderlik verryk en versterk met betrekking tot julle geestelike lewe. Leer om dit wat Hy julle wys in julle lewens te integreer.

Gebed

Here, ons het met U begin maar intussen lou geword in ons geestelike verbintenis. Ons is jammer daaroor. Skep in ons ń vars behoefte om U beter te ken en diensbaar te wees. Dankie vir U bewarende hand in ons lewens. U is kosbaar en ons het U baie lief.
Amen.