We train leaders here

Kinders, sê die Bybel, is ʼn erfdeel (geskenk)  van die Here. (Ps.127:3)

Verbondmatig word hulle aan ouers toevertrou ten einde hulle vir die lewe voor te berei.

Die lewe is uitdagend en volwassenes hoef daarvan nie oortuig te word nie. Ten einde in hierdie wêreld te oorleef is daar sekere onverhandelbare karakter eienskappe nodig. Daaronder tel ʼn skerp sin vir verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid. Niemand word daarvan verskoon nie. Jy doen en gee rekenskap van wat jy gedoen het selfs al is jy die baas.

Daarmee saam dissipline en selfbeheersing. Ons leef met ʼn geslag jongmense wat ietwat bederf voorkom alhoewel ek baie lief is vir hulle. Omdat ouers self swaar grootgeword (groot geraak soos die Kapenaars sê) wil ons kinders die ongerief en ontbering spaar. Ons wil hulle alles gee wat ons nie gehad het nie. Die rye motors by Universiteite is daarvan ʼn klinkklare voorbeeld. Die uitspattige matriekafskeid is ʼn ander ( ʼn klippie in my skoen).

Ek bedoel daarmee nie dat kinders en jongmense nie die mooi en goeie mag geniet nie, inteendeel. Dit is ʼn voorreg om jou kinders te versorg en aan soveel inhoude en stimuli as moontlik voor te stel. Dit is die wyse waarop hulle tog uiteindelik by ʼn verantwoordelike beroepskeuse uitkom. 

Kinders moet egter weet waar geld vandaan kom, dit groei nie op ʼn mens se rug nie. Inteendeel.

Kinders en jongmense moet deel hê aan die onderhoud van die huishouding. Beddens behoort opgemaak te wees en beurtelings skottelgoed was doen niemand skade nie.

Onthou, elke mens is ʼn leier in eie reg. 

Ons is besig om te belê in die toekoms. 

Sal ons kind leiding kan neem wanneer dit van hom of haar verwag word is ʼn  belangrike vraag?

Jy mag van my verskil, dis jou goeie reg. Ek dink egter nie ek is ver verkeerd nie.