Wat van die kinders?

Die nuwe jaar het reeds momentum opgebou en agterbly is nie ʼn opsie nie. Dit is merkwaardig dat ʼn nuwe jaar ook meestal nuwe energie en drome bring en dat ʼn mens opgewonde kan wees oor wat die Here met jou in gedagte het. Ek is tans besig met John Ortberg se boek “The me I want to be.” Hy skryf oor God se betrokkenheid by mense.

Almal begeer tog om vervuld, sinvol en voluit te lewe. God het ʼn plan en sal die werk wat Hy in jou begin het nie versaak nie.

Die verandering wat jy begeer kan jy nie self bewerk nie. Net die Here kan jou vervuld laat.

Suid Afrika is ons konteks, dit is hier waar kinders van die Here ʼn verskil moet maak. Dit is nie altyd maklik nie veral wanneer ander se manier van dinge doen jou teen die bors stuit.

Dat mense met verskonings wegkom en prosesse ontwrig en dit aanmekaar regkry is erg frustrerend. Dit is nie dat ʼn mens ander mense, selfs die misdadigers slegte dinge toewens nie. Terwille egter van ʼn ordelike en opbouende omgewing kan mense egter nie sonder meer toegelaat word om te doen wat hulle wil nie.

Mnr. Zuma se dag in die hof sukkel om aan te breek. Mense moet my dit verskoon maar die storie van ongesteldheid is weereens ʼn verskoning om die reg sy gang te laat gaan.

Die probleem is dat misdadigers, ook “jong opkomende misdadigers” konkludeer dat mens maar kan doen wat jy wil, dit het nie gevolge nie. Dit geld nie net vir misdadigheid nie maar baie ander wat hul verantwoordelikhede ontduik en gemeenskappe verontreg. Om te dink dat mense nie water en sanitasie het nie is ontstellend. Kragvoorsiening raak dieper in die knyp en beloftes ten spyt loop ons die gevaar om ʼn algehele ineenstorting van kragvoorsiening te sien en met verrykende gevolge. Ons moet bly bid vir ons land.

Patricia de Lill vra ondersoek na drie staatsbegrafnisse wat verlede jaar teen ʼn astronomiese koste van 76 miljoen rand gefasiliteer is. Die arrogansie van geldwolwe laat ʼn mens asemloos. Het mense dan geen skaamte nie? Om selfs die dood, rou en hartseer in eie belang te manipuleer is skreiend. Skaamte ontbreek in ons samelewing waar eiebelang botoon voer.

Mnr. Gordon se posisie is sterk in gedrang en die moontlikheid dat hy die staatsrede sal oorleef is gering, Gewetenlose manipuleerders soos ons vriende in die EFF muilband die ganse Suid Afrikaanse samelewing deur te dreig om die staatsrede te ontwrig. Die ergste is dat ons staatsmasjinerie hul daardeur laat beïnvloed en dat ons leierskap ruggraat ontbreek ten einde reg en geregtigheid te laat geskied.

Die narratief van eie belang, die gewraakte soustrein, is duidelik herkenbaar.

Politici mors tyd, middele en geleenthede deur alewig mekaar in die hare te vlieg, mosies van wantroue te debatteer en vergaderings te skade te ontwrig terwyl Suid Afrika veral ekonomies gesproke op die afgrond luier. Oral word gehoop dat ons geagte staatspresident leiding sal neem en ons land op koers sal bring. Die twyfel word egter al hoe groter dat hy inderdaad die ridder op die wit perd is waarvoor Suid Afrika gehoop het.

Waarom egter bly hierdie toedrag van sake op ons radar?

Wanneer gaan dit koers kies en verdwyn?

Solank as wat Jan Publiek sy profetiese getuienis versaak sal dit die gang van sake wees. Die tyd kom nader dat, wat prof Nico Botha deelnemende demokrasie noem, ʼn werklikheid word. Die rol van kiesers moet duideliker gedefinieer word as ʼn vyfjaarlikse stembus ervaring.

Tienduisende hoopvolle maatjies het gister teruggekeer skool toe. Talle wag nog om geplaas te word.

Die beste belang van hul kinders is alle ouers se intensie. Daarom dat ouers teleurgesteld is dat hul kinders, beloftes van onderwysowerhede ten spyt, steeds in oorvol, disfunksionele en selfs gevaarlike skoolgeboue moet klas draf. Uit elke 100 leerlinge wat gister skool toe is sal, soos die toedrag van sake tans is, twee derdes nooit matriek sien nie. Die standaard van onderwys is onder verdenking en sommige onwillige, lui en ongemotiveerde onderwysers ondergrawe kinders se toekoms. Daar is nog duisende puttoilette wat nog nie met behoorlike sanitasie vervang is nie.

Ons kinders verdien beter. Op die Kaapse vlakte sterf hulle in bendegeweld. Duisende kinders gaan slaap saans honger. Hulle speel te midde van riool en vullishope in die townships. Hulle sit in lang rye by hospitale en klinieke en wag op behandeling. Hulle woon in oorvol vertrekkies waar daar geen privaatheid is nie. Hulle trek swaar omdat gewetenslose mense die geld wat vir hul opvoeding bestem is steel.

Die onreg teenoor ons kinders word geïntensiveer deurdat hierdie skelms nie die binnekant van ʼn gevangenis sien nie.

Kinders in die jaar 2020  verdien beter as om by kerslig te studeer, jaar op jaar te wag op handboeke wat nie afgelewer word nie en  onveilig te wees in skoolgeboue wat aan die brand gesteek of nie onderhou word nie.

Suid Afrika sal rekenskap gee van wat ons met ons kinders gedoen het.

Michael Jackson se Eathsong het betrekking.

Did you ever stop to notice

All the children dead from war

Did you ever stop to notice

The crying Earth, the weeping shores

Groete

Jannie Pelser

Organiseerder

ToekomsVenster