Walglik, sê die president.

Somtyds dink ʼn mens aan Suid Afrika as die land waar alles verander maar niks verander nie.

Allerwee is voorspel dat Covid-19 ʼn nuwe tydvak in die wêreldgeskiedenis inlui en dit mag so wees tov ʼn aantal praktyke wat vervang, vernuwe of aangepas moes word.

So moes die kerk onder andere leer hoe om lidmate te bedien sonder dat hulle die erediens mag besoek. Lyk my of die kerk in die algemeen nie te veel gesukkel het om die oorgang na internet gebasseerde bediening te maak nie en my eertydse kollega beskryf dit selfs as ʼn avontuur.

Veral besighede moes groot aanpassings maak. So word aanlyn aankope al hoe meer die aangewese manier om jou inkopies te doen.

Daar kan seker tientalle ander voorbeelde van innovasies en verbeeldingryke inisiatiewe genoem word.

Ek is egter bekommerd dat ons harte nie in dieselfde mate vernuwe het as wat stelsels en praktyke moes aanpas nie. Jy verander nie iemand se hart met ʼn app. nie. Dit kos die werk van die Heilige Gees en ʼn nie weerstandige hart wat daardie vernuwing teweeg bring. Esegiël leer ons tog dat die nuwe hart en gees God se werk in die lewens van mense is. (Eseg.36:26)

Wat nie verander het nie is onder andere Suid Afrikaners se drink gewoontes. Ek veralgemeen inderdaad en wys nie vingers nie. Ek interpreter doodgewoon gegewens wat in die media bekendgemaak en deur die praktyk bewys word.

Suid Afrikaners het ongesonde drinkgewoontes. Ons huiwer nie om dit op die pad te waag selfs nadat ons ʼn paar drankies ingeneem het nie. Ons dink oënskynlik nie aan die gevaar wat ons nie alleen vir onsself, maar ook vir ander mense inhou nie.

Rye mense by drankwinkels nadat die verbod op verkope gelig is het die onversadigbare dors van ons volkie gedemonstreer. Ek wil hiermee nie vir n oomblik suggereer dat alkohol per se verkeerd is nie maar, verbruikers het ʼn verantwoordelikheid. Een wat ons klaarblyklik nie besef en ernstig neem nie.

ʼn Ander terrein waar ons nie verander het as ʼn mens na die gegewens kyk nie is die brutale wyse waarop ons teenoor die vroue in ons samelewing optree. Dit is onbegryplik dat manne hulself die luuksheid kan veroorloof om hul vroue, selfs ander vroue wat in die samelewing ontplooi is, met meerderwaardigheid en ʼn arrogante ingesteldheid te behandel.

Geslagsgeweld is nie ʼn kleurding nie. Dis ʼn manne ding en dit is wyd voorkomend in die Suid Afrikaanse konteks. Jaar na jaar se fokus op vroueregte maak geen hond haaraf nie. Terwyl ʼn mens lees, hoor of sien van ʼn vrou wat wreed verkrag en verrinneweer is, word die volgende verniel.

Jesus het die vrou se plek in die samelewing onteenseglik kom herstel. Daar is by Hom geen onderskeid of bevoorregting van die manlike geslag nie. Hy gesels teen alle aanbaarbare sosiale norme in met ʼn Samaritaanse vrou, stuur die sg. owerspelige vrou sonder veroordeling weg, verskyn eerste aan vroue na sy opstanding uit die dood.

Elke man het deur ʼn vrou in die wêreld gekom. In elke vrou skuil ʼn moeder sonder om daarmee vroue se rol tot kinders in die wêreld bring te reduseer. Ek verwys na ʼn respekvolle behandeling vir die onvervreembare rol wat vroue speel.

Elke presteerder, sportman , held, “celebrity”, suksesvolle besigheidsman het hul bestaan aan ʼn vrou te danke. Jy noem haar ma.

Skaamte behoort van ons besit te neem omdat ons volgens wêreldgemiddeldes onself as vrouelaners en vroueverkragters onderskei.

Elke pa het die verantwoordelikheid om met sy vrou so om te gaan dat sy kinders ʼn praktiese voorbeeld sien van respek en waardering. Pappas veral het die verantwoordelikheid om hul seuns so groot te maak dat hulle vroue met die nodige respek behandel.

Mnr Ramaphosa het tydens sy voordrag vroue mishandeling, sg. gendergebasseerde geweld, as walglik beskryf. Hy het die name van vroue, ook bejaarde dames, oumas en ouma grootjies wat wreed verkrag en vermoor is, een na die ander voorgelees. Dit was ʼn heilige oomblik wat ʼn mens met hartseer, afsku en verontwaardiging vervul het.

Dit is jammer dat hy nie sommer ook verwys het na die grusame wyse waarop mense in landelike gebiede en plase vermoor word nie.

Suid Afrika is ʼn wrede, onverdraagsame en getraumatiseerde samelewing.

Ek wonder of God se geduld met ons nie opraak nie.

Manne mag protesteer en sê dat hulle nie skuldig is nie.

Elke bystaan terwyl ʼn kru grap oor vroue gemaak word, elke waag agter die stuurwiel terwyl jy weet dat jy te veel gedrink het en elke rassistiese opmerking uit jou mond, elke stilbly toe jy moes gepraat het, elke bly sit toe jy die strate in moes gevaar het en elke verskoning vir onreg, maak jou en my aandadig aan hierdie onhoudbare situasie.

Real men don’t rape, kill, destroy, abuse and procrasrinate.