Waarom help die Here nie?

ʼn Tyd gelede het ek ʼn ernstige geloofsworsteling beleef n.a.v. al die verskriklike dinge wat in die wêreld gebeur.


Dis moord en doodslag, oorlog en vervolging, hongersnood en vlugtelinge, aardbewings en modderstortings, en so kan ek aangaan.
Wat Suid Afrika betref kan jy die lysie na hartelus aanvul. Daar is soveel wat ʼn mens ontstel. In die jongste tyd, benewens al die politieke, ekonomiese en sosiaal maatskaplike trauma, is daar ook die droogte. Toegegee, die Here het op baie plekke uitkoms gegee.


Wat die politiek betref is daar die opruiende uitsprake van gewetenlose politici, die korrupsie en nepotisme wat ten spyte van verskeie ondersoeke en sake net nie ophou nie. So kan ʼn mens aangaan.


Dan is daar die brande wat reeds weke aaneen woed en soveel eiendom, natuurlewe en selfs lewensverlies tot gevolg het.

Die vraag is dan waarom die Here nie help nie, waarom Hy nie ingryp nie?
Ongelukkig het ons hier met ʼn dimensie van God se op weg wees met hierdie wêreld te doen wat nie vir ons verstaanbaar is nie. Die dinamiek van faktore wat tot trauma, krisisse, rampe ens. aanleiding gee is nie altyd aan ons bekend nie.

Al wat ons kan doen is om die Here toe te laat om te wees wie Hy is en wil wees. Ons kan nie voorskryf nie maar net vra. Ons het die belofte dat alles ten goede uitwerk vir die wat Hom vertrou.
Sommige mense mag sê dis volstruispolitiek. Hulle sal aanbeveel dat ons ons verstand gebruik en sien dat God nie bestaan nie, of afwesig en onbetrokke is. Ander mag redeneer dat Hy doodgewoon net nie omgee nie of dat mense te veel gesondig het.
Niks daarvan stel ʼn soekende mense tevrede nie.Terug na my intense geloofsworsteling van ʼn paar jaar gelede. Ek het begin twyfel en die Here kwalik geneem dat die wêreld so stukkend was.
Dit was toe asof die Here vir my gesê het dat ek sal moet besluit wat ek aangaande Hom glo. Ek kan en sal nie vorder in my verhouding met Hom of in my dienswerk tensy ek die saak uitmaak nie.


Voor in my Bybel het ek ʼn lysie gemaak van wat vir my, weliswaar vanuit ʼn geloofsperspektief, soos ʼn paal bo water uitstaan. Die eerste was dat God goed is. Dis waar ek my vrede maak en vind.


PSALMS 34:9Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil.Ek kies om te glo dat Hy in beheer is, dat ek nie alles verstaan of sal verstaan nie doodgewoon omdat ek ʼn doodgewone mens is. Ek kies om nederig voor Hom te wees en my plek te ken.
Ek loof Hom verder dat ek in ʼn deurmekaar wêreld ʼn Vader het wat omgee.Mag jy vandag troos vind as jy worstel.


Jes.55:8 My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here;

Groete, Jannie Pelser