Vyfde Kruiswoord

“Ek is dors.” (Joh. 19:28)
Die gevaar is groot dat ʼn mens die kruiswoorde en gebeure so kan spiritualiseer dat die verhaal van fisiese pyn en lyding wat daar afspeel, verberg word. Dit is vir my baie moeilik om na voorstellings van dié gebeure ( soos in rolprente)  te kyk. 
Ek kyk konsekwent weg omdat dit net te ontnugterend en pynlik is om te aanskou.
Mense kan so wreed wees en dit het nog nooit verander nie. 
Ook in ons dag word mense aan die allerverskriklikste lyding blootgestel.
In ons land vermoor mense hul families, vriende, kennisse, naaste.
Dis mense wat dit aan mense doen. 
Dis te aaklig om te probeer verstaan. 
Die laaste vergrype aan mense se lewens moes die kruis van Golgotha gewees het.
Omstanders moes hulle dit toe al voorgeneem het om dit nooit weer aan ʼn ander te doen nie.
Die laaste bloed wat gestort is moes daardie dag wees. 
Die vrug van die kruisgebeure moes ons op ʼn versoeningspad gestuur het. Tog bly dit ʼn vae droom.
Ons is soms ewe ongenaakbaar teenoor mekaar terwyl  haatdraende mense die toekoms van hierdie land verongeluk  en tientalle mense sterf op die altaar van selfsug, eiebelang, luiheid en traak my die agtigheid.
Esidimeni is daarvan ʼn resente voorbeeld. 
Ook talle moordsake wat tans in ons howe afspeel. 
Sonde het op ons almal afgevee. Dit help nie ons wys vingers nie. Dit ontbreek ons aan die vrug van die kruis. Dit trek ʼn streep deur God se bedoeling met mense. Dis wreed, ontnugterend en hartseer en dit hou nie op nie.
Dors was die gevolg van ʼn pad van vernedering en mishandeling wat die Seun van die mens te beurt geval het die vorige paar dae. Fisies, emosioneel en geestelik stukkend en gebroke word Hy nakend aan ʼn paal opgehang terwyl die mense spot en hoon dreunsang. Hy beroep Hom op ʼn stukkie medemenslikheid en kry dit in die vorm van suurwyn en gal. Hy wys dit van die hand want Hy moet die volle konsekwensie van mense se sonde dra. ( Markus 15:23)
As Hy uiteindelik tetelestai kreun het Hy inderdaad ʼn volmaakte offer gebring.
Is daar steeds wreedheid in ons woorde, dade, gesindheid en optrede?