Vriendelikheid kos iets!!

Ja, ek weet ek het die spreekwoord verkeerd aangehaal maar ek reken dis dalk nader aan die waarheid as die bekende een.
Vriendelikheid kos inderdaad iets.
Miskien kan ons ander woorde in die betekenisveld van vriendelikheid oorweeg – goedhartigheid, sagtheid, deernis, begrip, verdraagsaamheid, lankmoedigheid, geduld…
Ek bekommer my dat die tydsgewrig waarin ons lewe ons hardvogtig en onverdraagsaam maak. Ek verwys veral na opmerkings van mense op sosiale media wanneer dit by sake kom waarmee hulle nie saamstem nie.
Mense verskil immers van mekaar, so ook hul verstaan van die wêreld en hul plek daarin. Mense se ervaringe verskil en veral dit maak dat ons krities en onverdraagsaam reageer. As ons eers vir ʼn oomblik stilstaan en na ander se stories luister sal ons groter begrip vir mekaar hê.
Vrydagoggend word Brandpunt  op Radio Kansel  uitgesaai (0630) waar ek met drie rolspelers gesels oor kulturele sensitiwiteit. Een van die deelnemers is ons eie ds. Peter Hlokwa van Munsieville. Peter het ʼn lieflike en geslaagde bediening net agter die bult in Munsieville.
Ons gesels telefonies met mekaar oor die onlangse gebeure toe die bekende klerewinkel H&M ʼn swart seuntjie (winkelpop) aantrek met ʼn toppie met die woorde : The cutest monkey in the jungle.
Baie swart mense beleef die advertensie beledigend en onsensitief.
Witmense verstaan min daarvan. Trouens die verwysing na bobbejaantjie is “cute” na ons belewenis en meeste van ons sal geen probleem hê om so ʼn hempie vir ons kinders en kleinkinders aan te skaf nie.
Bobbejaantjie of apie is ʼn deernisvolle begrip binne ons kultuur en veroorsaak nie ongemak nie.
Ons boeties en sussies van Afrika kultuur voel anders daaroor. Oor jare moes hulle hoor dat hulle bobbejane is, dom, onnosel, onopgevoed en agterlik. Hulle moes aan eie lyf beleef dat witmense superieur is en dat hulle nie sal oorleef as dit nie vir witmense is nie.
Minagtend word gevra watter uitvindsel dan aan swart mense toegeskryf kan word. ( Ai, ons het so lank in isolasie geleef. Dink maar met aan die internasionale erkenning en waardering vir die musikant  Hugh Masekela  wat pas gesterf het.)
Ek weet sommige van u sal ongemaklik voel met dit wat ek skryf en as dit nie op u van toepassing is nie kan u mos daarvan wegstap.
Indien ons  onsself of ander witmense hierin erken kan ons ten minste probeer om ʼn mate van sensitiwiteit en begrip te openbaar teenoor ons kollegas oorkant die grootpad.
Hoe gemaak met ons vooroordele en growwe veralgemening en stereotipering?
Vriendelikheid kos iets.
Erken ten minste dat jy somtyds neerkyk op mense van ander kulture. Ek moet dit ook doen…en hulle waarskynlik ook.
Wees jammer daaroor en kies om te verander.
Vriendelikheid kos iets.
En die verwoesting, geweld en plundery wat met protes en die opstandigheid gepaard gaan?
Dis ʼn ander onderwerp.
Groete
Jannie Pelser

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}

Rant en Dal Gemeenskapkerk