Ek kyk vanoggend ʼn stukkie grafika van iemand wat in ʼn vliegtuig sit op weg na sy bestemming. Die onweerswolke buite is dik en bedreigend. Turbulensie is die voorland. Sitplekgordels vas en met ʼn bykans gewyde stilte styg die vliegtuig op. Die vlieënier verseker die passasiers dat hul veiligheid van die grootste belang is en dat hul hul gordels nie mag losmaak voordat die teken bokant die sitplek hulle magtig om dit te doen nie. 

Jy verbeel jou selfs dat die groot lugskip dit effe moeilik vind om teen wind en reën koers te kry. Jy voel effe kortasem en benoud en wonder of jy almal gegroet het voordat jy dit op hierdie reis gewaag het.

Jy dank die Here vir ʼn gespaarde lewe en praat jouself moed in dat sou die ergste gebeur jou naam geskrywe staan in die boek van die lewe en die Lam.

Dan breek sonstrale onverwags deur die venster. Jy kyk na buite en sien dat die lug helder blou en skoon is. Die wolke lê soos ʼn omgekeerde wolkekrabber doer ver onder. Julle het bokant die onsekerheid, turbulensie en gevaar uitgestyg.

Die teken word gegee en jy kan ontspan. Die gevaar is verby. Die vriendelike dame kom gang af en vra wat jy wil drink.

Die metafoor het my laat dink aan ons geestelike lewens. God nooi ons na die bloulugervarings toe. Somtyds ervaar ons spanning om daar te kom. Vertwyfeling en selfs wanhoop maak hul tuis in jou brose gemoed. Jy dink nie dat die lig ooit gaan deurbreek nie. Dinge is net te onseker en “volatiel” om ʼn woord uit die ekonomie te gebruik.

God sê by wyse van spreke “hang in there. I am in control. Trust me. Don’t give up. I will never fail and never disappoint you. I am God and will always be”.

Vashou en vas gordel in en aan die geloof in die Een wat in staat is om die onmoontlike te doen. Verder kyk as die hier en nou,  troebel en bedreigend. Immers, dis nie die eerste keer dat jy in so ʼn situasie verkeer nie.

Dis hoe die lewe is.

Ervaring het jou mos al geleer dat God altyd getrou is.

Weet nie hoe jou reis vandag lyk nie.

Vas gordel vir ʼn tydjie is dalk jou voorland.

Kort voor lank sal die lig deurbreek.

Sterk staan (sit).

“Die oë gevestig op Jesus die begin en die voleinder van ons geloof..”

Hebr. 12:2-7