Vierde Kruiswoord

“My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46, Mark 15:34)
Aller verskriklik en onwerklik, God van God verlaat.
Diepe misterie en tog waar.
Jesus, die Seun, sondeloos en onskuldig, beleef Godverlatenheid aan die kruis. Die alleenheid word verder ongenaakbaar versterk deur die haatgedrewe spot en hoon van die omstanders. Immers, hulle het Jesus gesien waar Hy tussen mense beweeg.
Hulle het Hom beleef wonders doen en nood aanspreek. Hulle het Hom gehoor preek en leer en desnieteenstaande spu hulle onvriendelike opmerkings en grynslag uit…en Jesus verduur dit.
Onbegryplik!

Waarom sou Hy die vernedering verduur?
Waarom slaan Hy nie in eie munt terug nie?
Waarom deel Hy nie slae uit nie maar ontvang dit van ʼn gepeupel wat geen barmhartigheid betoon nie?
Net een verduideliking, sodat hulle nooit Godverlate sal wees nie.
Hoe verstaan ʼn mens hierdie omgee, liefde, sorg en meelewendheid?
Dit maak ʼn mens se waardering vir die Persoon van Jesus net groter.
Dit word nag vir Jesus sodat dit nie donker sal bly in ons lewens nie.
Ons worstel almal by tye .
Dit is  deel van die gebroke bestel waaraan ons deel het.
Dit is ʼn deur die sonde geaffekteerde realiteit.
Ons is nog nie in die hemel nie.
Daar sal die son altyd skyn.
Tot dan mag, kan en moet ons ons beroep op die vrug van die kruisgebeure.
Jesus was alleen sodat ons nooit alleen sal wees nie.
Jesus roep uit “My God waarom het U my verlaat”.
Ons roep uit “Dankie Here dat ek nooit weer alleen sal wees nie”.