Verwondering

Verwondering 

Ons het twee manjifieke kleinkinders ( hoe dan anders) , seuntjies op pad na 5 jaar oud. Die lewe is ʼn avontuur vir hulle. Elke dag word met grootse entoesiasme begroet. Energievlakke is hoog en die huis word op horings geneem. Dis asof die (baie) speelgoed hulle verwar. Dan hiermee speel en dan daarmee. Lekker verby.
Elke dag is ʼn leerervaring by die kleuterskool. Dit leer van vervoermiddele, veiligheidsdienste, gesondheid, die liggaam. As hulle tuis kom word opgewonde vertel van alles wat geleer is. Dis heerlik om te lewe.
So baie van ons is oënskynlik lewensmoeg. Ons kla om op te staan soggens, die tuin te versorg, te gaan werk. Ons kla oor ons liggame wat vol pyne is, die oë wat nie meer wil sien nie en die gesukkel om ʼn parkeerplek te kry. Die diens by die restaurant is nie meer op standaard nie en die rye by Binnelandse sake ʼn ergernis. As die mense net meer personeel wil kry. Die politiek ontstel ons en die lewenskoste is ver te hoog.
Kla, mor en kreun.
Die avontuur is weg.
Die lekker lank vergete.
Die opwinding geliasseer.
Kan ons nie vandag weer iets van die wonder van menswees ontdek, koester en waardeer nie. Kyk om jou rond en sien God se wonders weer raak. Wees opgewonde om te lewe. Dank die Here vir sy genade. Dis onbeskryflik groot.
Gebed
Here ek bid vir nuwe oë. Ek wil sien wat U vir my voorberei het.
Amen

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}