Vanselfsprekend

Een van die grootste versoekings waarvoor gelowiges te staan kom is die gevaar van vanselfsprekendheid.
Uiteraard is dit op alle mense van toepassing maar per definisie behoort dit nie in die lewe van God se kinders nie.
Om iets of iemand vanselfsprekend te aanvaar is om die saak of persoon nie meer na waarde te skat nie. Jy lewe met wat die Engelse noem “entitlement”.
“Ek is daarop geregtig. 
Ek kwalifiseer daarvoor. 
Dit kom my toe”. 
Christene egter  leef met ʼn oorweldigende gevoel en besef van hul onwaardigheid. Ek moet dit egter kwalifiseer. Onwaardig in die sin dat jy vanweë die keuses wat jy gemaak het en maak nie kan aanspraak maak op God se liefde en genade nie. Jou onverskilligheid ( sonde) diskwalifiseer jou en dwing jou na buite. Buite die dampkring van sy genade, sorg en liefde.
Die verrassende is dat God ons waardig ag en so liefhet dat Hy ons nie oorgee aan die keuses wat ons maak nie. Soos in Openbaring staan Hy by die deur en klop van iemand wat die deur in sy gesig toegeslaan het.
Dit is juis sy onverstaanbare liefde vir mense wat dit nooit ooit kan verdien nie wat so beïndruk.
Dis die enigste verklaring vir sy volgehoue klop aan die deur van ons harte.
Omdat ek so intens bewus is van my eie onwaardigheid, net om bewus te word dat Hy my waardig ag, kan ek sy genade, liefde en sorg nie as vanselfsprekend aanvaar nie.
Genade, liefde en sorg is immers metafore vir God self want dit is wat Hy aan my kom gee, Homself, drie enig, volledig.
Die wonder van ʼn nuwe dag, ook wat my geestelike lewe betref, kos op die tafel en ʼn bed om in te slaap, klere om aan te trek en ʼn betrekking om na toe te gaan, mense rondom my en geleenthede wat wink, die lewe, die Ewige lewe,  moet my met onuitputlike verwondering vul. 
Daar kán net één woord op my lippe speel as ek in die oggend wakker word en in die aand gaan slaap “dankie, dankie, dankie, dankie, dankie, dankie, dankie….”
Ps Weet jy van ons bederfpakket.
As hierdie gedagtes vir jou iets beteken vertel iemand daarvan.