U laat my aansit – Ps. 23

Simbole van genade

Die inperking bring vir die van ons wat nie ons werkplek weg van die huis af het nie ʼn groter soepelheid. Vir my en Suzette, my wederhelfte, (die beterhelfte) beteken dit dat ons effens later ontbyt kan geniet. Ons stel dit doelbewus uit totdat die wintersonnetjie op die stoep skyn. As daar nie ʼn windjie waai nie is dit ʼn lieflike plekkie om jou ontbyt te geniet.

Die ritueel wat hierdie afspraak voorafgaan beteken onder andere die volgende –

Besluit waarvoor jy lus is.

Daar is ontbyt pap, brood wat netso of gerooster geëet kan word.

Botter, smeerkaas, grondboontjie botter, Marmite.

Daar is ook ʼn lekseltjie van gisteraand se Lasanje oor as jy vir iets meer substansieel kans sien.

Uiteraard is daar eiers wat gebak, gekook, as ʼn omelet of in ander formaat geniet kan word.

Koffie rond die ete volmaak af nadat die laaste stukkie brood wat spesiaal daarvoor geoormerk is ʼn blertsie Marmelade gekry het. Hoe bitterder, hoe lekkerder.

As ek mooi daaroor nadink is dit elke ete wat ons geniet se ritueel. Tussendeur is daar ʼn beskuitjie of ietsie anders om saam met die tee te geniet.

Die Here is vir ons goed. Ons is buitegewoon dankbaar. Hy laat ons telkens wat ons fisiese eet betref, by ʼn feesmaal aansit. Ons verdien daar niks van nie. Dit is simbole van genade.

Ek is terdeë daarvan bewus dat miljoene mense in Suid Afrika nie daardie voorreg het nie.

Die eenvertrek huisie, self ʼn risiko en digby ander, het nie ʼn stoep nie. Die son word deur die veelheid van strukture bedreig. Daar is nie ʼn yskas nie en die koskas is enige houer wat vir daardie doel aangewend kan word.

Die keuse wat vir ontbyt geëet kan word is beperk tot brood, waarskynlik nie vanoggend of gister sn. nie. Daar is nie ʼn rooster om die doodsheid te verdwerg nie en indien enige iets, is dit wat daarop gesmeer kan word, uiters beperk.

Covid19 het baie mense weer geleer gee. Dit is wonderlik en Goddelik.

Ons sal egter baie moet gee om armoede en verwaarlosing in ons samelewing behoorlik aan te spreek.

Ja, ek weet daar is baie legitieme irritasies wat aangespreek moet word.

Onnodige regulering van noodsaaklike voedsel verspreiding is een daarvan. Honger is honger. Gee die mense kos as jy kan. Wat ʼn sinnelose gestry oor gekookte kos, toebroodjies met Grondboontjiebotter wat nie meer by die Cradle of Hope gegee mag word nie.

Kos moet glo by adresse afgelewer word! Die vraag is net, waar is die massas se adres?

Arrie, ons een been vennoot is een van duisende wat op straat woon.

Daarmee saam die groot vraag hoeveel korrupsie en bedrog met die voedselverspreiding gepaard gaan.

Dit mag alles so wees maar, dit neem niks weg van ons verantwoordelikheid om nie net nou nie, maar ook  in die toekoms verbeeldingryk na te dink oor die gebrokenheid van ons gemeenskappe.

Jesus het immers gesê : Vir sover julle dit aan die geringstes gedoen het het julle dit aan my gedoen. (Matt.25)

As jy weer “aansit” om jou ete te geniet dalk ʼn oomblikkie nadink oor miljoene wat nie die voorreg het nie.

Daarvoor is ons diep dankbaar.

Dit is ʼn simbool van genade.

jannie@toekomsvenster.co.za

Terloops : Woensdae 1100 op Radio Kansel kuier ek saam met Adv. Leon Wessels, ds. Rudie Swanepoel, Prof. Nico Botha, en ander.

Luister gerus saam. AM 657.