Tussen gister en more

Gits, die lewe snel verby. Dit was nou die dag nuwe jaar en ons praat al reeds van kers inkopies. Die winter is haas verby en die bome bot luidrugtig. Dis heerlik warm asof die somer reeds hier is. Hier en daar sien ʼn mens bogrond oor grasperke gestrooi wagtend op deurdringende reën wat ʼn pragtige groen mat tot gevolg gaan hê.

Dis die lewe, sommer gou verby. Verbeel ek my of gaan dit nog vinniger namate ʼn mens ouer word. Ons moet die tyd uitkoop en voluit lewe, vandag.

Iewers is ʼn mens se gedagtes altyd met gister of more besig.

Gister se mislukkings doem voor ʼn mens op. Jy voel skuldig en onvervuld. Daar is take wat nie afgehandel is nie en nimmer eindigend oorgedra word. Drome wat nie meer gaan realiseer nie omdat die oomblik verby is. So kan ʼn mens aangaan. Feit van die saak is dat ʼn mens aan gister niks kan doen nie, dis water onder deur die brug soos mense sê. Jy kan leer, jy kan ekskuus sê, jy kan bely maar dan moet jy aangaan. Breek af die tent en trek verder.

More is eweneens duidelik nie onder ons beheer nie. Trouens, ons weet nie eens wat in die volgende paar minute gaan gebeur nie. Dis alles in God se hand. Die Bybel sê moenie jou oor more bekommer nie, elke dag het genoeg van sy eie. Tog is ons geneigdheid om more se probleme vandag te wil oplos. Eweneens ʼn futiele oefening.

Nie ek nie maar God is reeds in die toekoms, my toekoms. Hy weet alles, het belowe niks sal gebeur wat ons nie saam kan hanteer nie en is vandag (ook gister) besig om my voor te berei en toe te rus vir more se uitdagings. Moenie die lewe ryp druk nie. Jy is net een mens.

Ons het vandag. Teen die tyd dat jy hier lees het etlike ure al verloop.

Waar is jou gedagtes?

Waarmee is jy besig?

Het jy al tuisgekom by vandag?

Fokus, kom terug na die nou.

Kyk na wat rondom jou aangaan.

Drink die mooi in, bid vir die minder mooi. Haal diep asem. Loof die Here vir die lewe, jou geliefdes, geleenthede en uitdagings.

Glimlag vir iemand. Gee iemand ʼn drukkie.

Watsup ʼn soentjie vir jou geliefde.

Wys gou vir iemand jou kleinkind se foto.

Slurp jou koffie stadig en intens in. Proe die geure. Moenie suiker ingooi nie, selfs melk as jy dit kan prysgee. Proe die koffie, iewers in Afrika verbou. Bid vir die mense op die landerye. Vee ʼn traan af vir die wat swaarkry.

Wees saam met jou kollega bly oor sy nuwe motor. Moenie jaloers wees nie.

Luister na Amazing grace of You’re a good good Father of No longer fear. Neurie dit saam en maak dit van aan jou menswees.

Jy het die oomblik, nou.

Dis al wat jy het.

Geniet dit ten volle.

Ps. Onthou ons uitsendings op Toekomsvenster se facebook bladsy.

Woensdag 1000 en 1900

Sondae 1000

Vertel ander mense as dit vir jou iets beteken.