Terug by die Algemene Sinode van die NGK.

ʼn Skare dominees en ouderlinge van die NGK is in Benoni saamgetrek om te gesels oor die kerk se doen en late. Daar word teruggekyk en besin. Daar word vorentoe gekyk en beplan. Daar word bely en bevestig.

Dit is verblydend dat die media spasie afstaan aan die belangrike vergadering. Die waarheid dat die kerk steeds ʼn strategiese rol het om te speel binne die Suid Afrikaanse konteks word daardeur beaam en dit is inderdaad so.

Sonder om die egtheid van “Christene” se verbintenis te beoordeel is dit tog so dat die meerderheid Suid Afrikaners hul tuis voel by ʼn Christelike lewens en wêreldbeskouing.

Die konkretisering van daardie belydenis in die praktyk van elke dag se bestaan gaan mank aan integriteit. Dit is met skaam huiwering dat ons moet erken dat daar al bykans ʼn onoorbrugbare kloof gekom het tussen lewe en belydenis. Die graad van kriminaliteit in Suid Afrika en dit op verskeie fronte maak ons getuienis in die wêreld verdag en strek God nie tot eer nie.

Terug by die Algemene Sinode van die NGK.

Uiteraard was Suid Afrika se ore gespits om te hoor wat afgevaardigdes met die saak van seksuele oriëntasie sou doen. Vanoggend se Beeld wil dit hê dat hofverrigtinge en wat daarmee verband hou die kerk nie minder as 3 miljoen rand gekos het nie. Dit is ʼn ontstellende syfer gegewe die enorme armoede en werkloosheid waarmee ons in Suid Afrika gekonfronteer word.

As afgetrede predikant in die NGK, nog altyd my geestelike tuiste, weet ek dat hofsake en litigasie die kerk in die verlede aansienlike bedrae gekos het.

Dit is tragies dat die kerk hom tot howe moet wend ten einde teologiese kwessies te besleg. Maar gedane sake het geen keer nie en dit sal nie help om oor water onder deur die brug te stry nie.

Volgens beriggewing is die menswaardigheid van alle mense, ongeag hul seksuele oriëntasie, finaal bevestig en verskoning aangebied vir die hartseer, pyn en onsekerheid wat besluite en optrede in die verlede in kerklike geledere en daarbuite kon veroorsaak het.

Mense se waardigheid hang nie af van wat ander van hulle sê of waarmee hulle hulself besig hou nie. Dit is ʼn inherente kwaliteit in elke mens, Godgegewe en bevestig deur ʼn offer aan ʼn eensame heuwel. Ek kan my die indink aan een geleentheid in die Bybel waar die menswaardigheid van enige individu, selfs te midde van sondige en onaanvaarbare optrede, in gedrang was nie.

Jesus in gesprek met die Fariseërs en Skrifgeleerdes, alhoewel hy hul dubbele standaarde erg kritiseer, bevraagteken nie hul menswaardigheid nie.

Die owerspelige of die Samaritaanse vrou se menswaardigheid is nie ter sprake nie.

Trouens, in die geval van die vrou by die put word dit veel eerder bevestig.

As Adam en Eva God in die tuin misloop word hul menswaardigheid nie opgehef nie.

Dit is ʼn onvervreembare gawe wat deur die aangewese optrede komplimenteer moet word.

Dit is ʼn jammer werklikheid dat die kerk vir die hoeveelste keer die menswaardigheid van mense in gedrang bring. Apartheid en die sanksionering daarvan was ʼn kru voorbeeld van die arrogante optrede. Wie peuter met die menswaardigheid van God se mense, peuter met God. Jesus word mens ten einde ons menswaardigheid te bevestig, nie te herstel nie.

Kan die kerk nou ophou stry en uitkom by die baie uitdagings waarmee ons worstel. R3 miljoen rand kon vir die duisende straatmense in Suid Afrika ten minste ʼn tydelike skuiling voorsien het.

Die kerk het ʼn verantwoordelikheid met lidmate se geld soos die regering met burgers se swaar verdiende geld.

Asb. broers en susters, kan ons nou ophou stry oor rant sake en bid, werk en beywer vir die herstel van ʼn stukkende samelewing.

I am a friend of God

He calls me friend