Taal is ʼn wonderlike gawe.

Gistermiddag op pad na Pretoria is ek ingeskakel op ʼn vervolgverhaal. Die gesprek tussen die man en vrou verloop min of meer as volg. Hy is baie onrustig maar omdat ek die storie nie volg nie weet ek nie wat die agtergrond is nie. 
Hy skrik met ʼn geskreeu wakker as sy vrou (?)  

opstaan om ʼn bietjie water te drink. Sy sê “jy is so vol elektrisiteit soos kabels wat gesteel word”. Later verwys sy na “slaap soos die witstrepe in die pad”. Hy vertel later nadat rustigheid ingetree het dat hy gaan slaap “soos ʼn beer wat hiberneer”. Sjoe, dis mooi.

Taal, ʼn gawe van God. 
Taal kan egter ook vir verkeerde redes ingespan word. Ons verval so maklik in die versoeking om sonder om behoorlik na te dink sondermeer met negatiewe en afbrekende taalgebruik te reageer. Ons snou mekaar dinge toe, noem mekaar name en maak stereotipes van mekaar. Ons verklaar mekaar tot vyande en plaas vraagtekens agter mekaar se motiewe. Ons dryf mekaar in  kampe, maak besluite en neem afskeid van mekaar. Ons misbruik die gawe wat die Here vir ons gegee het.
Hoe kan ons vandag taal gebruik om mede reisigers te bemoedig, aan te beveel en te versterk?
Miskien is die sêding waar, “as jy nie iets positief, opbouend en stylvol kan sê nie, bly dan liewer stil”.
“Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God” (1 Korintiërs 10:31).