Swaarkry gaan ook verby

Jer. 31:4-7

4             Ek sal aan jou kinders gee, Israel, jy sal kinders in die wêreld bring. Jy sal weer jou tamboeryne dra, jy sal uitgaan om te dans saam met dié wat bly is.

5             Jy sal weer wingerde plant op die Samariaberge, die boere sal dit plant en die vrugte daarvan geniet.

6             Die dag het aangebreek, die dag waarop dié wat wag staan, op die Efraimsberge sal roep: “Kom ons gaan na Sion toe, na die Here ons God toe.”

7             So sê die Here: Sing van blydskap oor Jakob, die leier onder die nasies, juig oor hom! Laat hoor julle loflied, en sê: Red u volk, Here, red wat van Israel oorgebly het!

Dit voel kompleet asof ons nooit van Covid-19 gaan wegstap nie. Ons lewens is dramaties inpakteer en dit voel asof ons die toekoms ook gemasker, op ʼn afstand, bang en onseker, elke oomblik bedag gaan lewe. Die grootse deel van hierdie jaar gaan waarskynlik deur Covid-19 gebeure oorheers word.

Die duiselingwekkende hoeveelheid mense wat geïnfekteer is, die duisende wat gesterf het en die gepaardgaande sosiaal maatskaplike en ekonomiese verwoesting wat dit gebring het gaan volgens kenners jare neem om van te herstel.

Die ontstellende gebeure in Libanon in die afgelope weke toe ʼn onverwagse ontploffing totale pandemonium tot gevolg gehad het is amper ʼn simbool van wat ons met Covid-19 beleef. Lugfoto’s van die gebeure daar laat ʼn mens besef presies hoe groot die verwoesting is. Iets daarvan is waar van Covid-19.

Ons sal die tyd nie ligtelik vergeet nie. Die geskiedenisboeke sal daarvan vertel. Ons kinders en kleinkinders sal daarvan leer.

Gaan dinge ooit weer verander?

Gaan ons weer kan terugkeer na ʼn gemoedelike samelewing wat kuier, feesvier, eredienste besoek, verjaarsdae gedenk, mekaar lank vashou, begrafnisse kan bywoon, dit na nege saans kan waag op straat, so veel scenario’s, jy kan jou eie toevoeg?

Wanneer gaan dit alles verby wees?

Israel het hulself sewentig jaar in die vreemde bevind. Hul liere is opgehang in die bome. Daar was niks om oor te sing nie. Hulle was verwyderd van alles wat bekend en betekenisvol was. Hulle harte was gebreek, God het ver gevoel, hul skuld was oorweldigend, die toekoms was duister, die tyd voor moeisaam. Dan kom die Woord van die Here.

In hierdie vertaling word die woordjie “weer” twee keer gebruik.

Jy sal weer wingerde plant, jy sal weer tamboeryne dra.

Feesvreugde sal weer beleef word, die volk sal van blydskap dans. Die landerye sal vrug oplewer, die volk sal die sorg van die Here geniet.

Israel verdien niks hiervan nie maar God maak ʼn nuwe begin met sy mense. Sy ewigdurende en onveranderlike liefde sorg daarvoor.

God keer na sy mense terug. Hy herstel hul vreugde, ritme, geloof.

Covid-19 sal verbygaan.

Ons sal weer sonder inperking kan lewe.

Ons sal weer dans van vreugde en lofliedere sing in die vergadering van die heiliges.