Suid Afrika rou 1

Swart sak dag

Vrydag 13 September 2019

Ons land is in ʼn krisis. Dit help nie om, ten minste vir nou, edel te verwys na al die mooi goed wat wel gebeur nie. Mooi, verdienstelike en noemenswaardige dinge gebeur elke dag en daarvoor is ons baie dankbaar. Niks daarvan neem weg van die ontstellende waarheid dat ons land in ʼn waansinnige spel van vernietiging beland het nie. Die ergste van alles is die oorweldigende gevoel dat baie mense doodgewoon net nie meer omgee nie. Ons is nou eenmaal op ʼn afdraande spiraal, kom ons kyk wat is daar onder.

Mag die Here ons bewaar van hierdie onverskilligheid.

Wat doen ʼn mens wanneer jou land en sy mense, jou mense, ons mense op die rand van die afgrond huiwer? Om stil te bly is die hoogste vorm van verraad. Jy roep, bid, soek, smeek, verduidelik en steek jou hand uit ten einde hulle terug te trek oor die gapende afgrond.

Ek wil vriendelik vra of jy nie hierdie week in ʼn atmosfeer van rou, berou en bekering wil deurbring te midde van jou normale besig wees nie. Kort gebede wanneer tyd dit toelaat en die Gees jou herinner waar jy indringend intree vir ons land en al sy mense.

Konkreet gaan dit veral oor die tragiese mishandeling van vroue en kinders, die zenofobiese aanvalle met alles wat dit impliseer asook die onvermoë van owerhede om hierdie land op ʼn pro aktiewe wyse te bestuur en te lei na herstel nie. Ons het die Here, mekaar en die internasionale wêreld nodig.

Menslik gesproke moet God huil oor wat van ons geword het. Die eens trotse Christen nasie het nou die bespotting van die wêreld geword.

Vrydag is swart sak dag. Soos in Nineve se tyd verneder ons onsself voor die Here en mekaar. Vullis sakke is gepak met emosie. Ons moet van die verkeerde ontslae raak en niks van die negatiewe oorhou vir herwinning nie. Al die vooroordeel, aggressie, onverskilligheid en onverdraagsaamheid. Ons moet klaarmaak met die rommerstatus identiteit en weer word wat die Here se ons is, Koningskinders. Ons moet ander eweneens as beelddraers van die Allerhoogste erken en met respek en waardigheid behandel.

Prewel elke bewuste oomblik die volgende woorde.

Lord have mercy

Christ have mercy.