Suid Afrika deskant die Jordaan
Ons leef in stormagtige tye, trouens dit is hoe baie mense die tydsgewrig beleef. Dit is veral die naakte rassisme wat weer soos stormwater oor ons spoel wat ʼn mens baie ontstel. Daarmee saam die aansprake op land en alles wat daarmee gepaard gaan. 
Dat dié gesprek nog ʼn lang tyd met ons gaan wees is duidelik. Miskien is dit ook ʼn stuk genade. Dalk sal ons na die aanvanklike ontsteltenis genoeg afstand ontwikkel om op verantwoordelike wyse na te dink en deel te neem aan die gesprek, in die verwagting dat ons gehoor sal word. Die hoop beskaam nie, immers ons ís gelowiges.
Ek is daarvan oortuig dat gelowiges met verwagting uitsien na die nuwe wat God wil doen. Sy Woord is vol van beloftes van ʼn nuwe more. Die nuwe dag sal eers by die voleindiging in sy totale heerlikheid deurbreek. Intussen is daar tekens daarvan vir wie deur die Gees gesentiseer is. 
Ons sal ander “brille” moet opsit as ons wil sien wat God sien en wat God wys. Ons “brille” van seerkry, teleurstelling, ontwrigting en vrees laat ons net gedeeltelik sien. Wat ons sien is boonop skeefgetrek en meermale bedreigend omdat ons ons deur die bose laat voorsê. 
Miskien is ons op die plek waar die Israeliete van ouds was toe hulle die beloofde land moes inneem. Vooraf word twaalf verspieders gestuur om die land te verken. Die gedeelte is meer as bekend. Die negatiewe rapport van die tien  word éérder aanvaar as die geloofsperspektief van Josua en Kaleb. 
Dit is so maklik om deur negatiwiteit oorweldig te word. Boonop, as ʼn mens na die skrifgedeelte kyk, is mense meer geneig om die negatiewe raak te sien as die moontlikhede. Die land mag aantreklik wees maar die reuse is te bedreigend om dit aan te durf. Josua en Kaleb se oproep en perspektief dat God groter is as die reuse val op dooie ore. Dis nie lank nie en die hele volk is in opstand.
Negatiwiteit is aansteeklik en baie mense gee daaraan toe. Hierdie pessimisme en ongeloof het daarvoor gesorg dat Israel ʼn verdere veertig jaar in die woestyn moes deurbring. Dis ʼn hoë prys om te betaal vir ʼn mosie van wantroue in die God wat die belofte gemaak en gegee het. 
Wat God vir al Suid Afrika se mense in gedagte het is mooi en goed. Ons mag nie daaraan twyfel nie.
Daar ís reuse en hulle vertoon baie bedreigend. 
God is groter en is in staat om te doen wat Hy belowe het. 
Moenie toelaat dat negatiwiteit jou oorweldig nie. 
Ps. Weet jy van ons bederf pakket? Besoek gerus www.toekomsvenster.co.za
Laai ook toekomsvenster se app. af. Ons kuier tans in Korintiërs. (Gedagte vir die dag)
Nou beskikbaar : So WIL ons leef. Dagboek vir jong gesinne. Skakel Drienie 011 6652017