Stronger together

Donderdag nuuskommentaar

Berigte wil dit hê dat Suid Afrika in die afsienbare toekoms ʼn onrusbarende toename in Covid-19 infeksies mag beleef. So beweer prof Shabir Madli, direkteur van die SA Mediese Navorsingsraad se eenheid vir entstowwe, dat meer as 1 miljoen Suid Afrikaners reeds met die virus besmet kan wees. `ʼn Ander berig wil dit hê dat daar teen middel Julie vanjaar daar   nie minder as 7400 sterftes en 400000 gevalle van Covid-19 verwante siektes in Suid Afrika  mag wees.

Dit terwyl  veral die Wes- en Oos Kaap se beskikbare fasiliteite om siekes te behandel tot die uiterste beproef sal word. Die ontstellende besmetting van meer as 200 skoliere by ʼn Macaula Senior Secondary skool in Mt Frere  in die Oos Kaap, bevestig die bekommernis en vrese van wetenskaplikes en die owerheid. Daar is tientalle skole wat moes sluit vanweë besmetting en die toekoms lyk duister. Daar is ʼn groeiende aandrang dat skole eerder sal sluit as dat kinders aan die risiko van besmetting blootgestel word.

Om al hierdie verwagtinge, vrese en paniek te balanseer vra  ʼn delikate proses. Die noodsaak om te volhard met sosiale afstand, gesigsmaskers wat beide mond en neus bedek asook hande was en voortdurende en volgehoue ontsmetting, spreek vanself. Daar is steeds gemeenskappe wat Covid-19 as ʼn bangmaakstorie beleef.

Intussen het die werkloosheidskoers verder toegeneem tot meer as 31%, en dit selfs voordat die impak van Covid-19 verreken is.  Sommige ekonome reken dat die werkloosheidskoers eerder nader aan 50% is. Die noodsaak om die ekonomie weer behoorlik aan die gang te kry word allerweë onderstreep maar dat dit in die kort termyn gaan gebeur, is wensdenkery.

Daarbenewens het die aanvullende begroting gister van die  minister van Finansies, mnr. Titi Mboweni, min entoesiasme by politici en meningsvormers teweeg gebring. Terwyl die ontstellende omvang van Suid Afrika se skuld duidelik blyk het daadwerklike en betekenisvolle planne om konkrete uitkomste te verseker volgens kenners ontbreek. Weereens nie ʼn taak wat ʼn mens jouself toewens nie, nl. om die land se begroting te laat klop nie.

Teen hierdie agtergrond is nuus dat sommige groot metro’s raadslede se salarisse verhoog, absoluut onhoudbaar. Dat munisipale tariewe kan styg is onoordeelkundig. Dat korrupsie steeds gedy en noodsaaklike middele nie by die geaffekteerde mense uitkom nie, is eweneens ondenkbaar.

Ongelukkig word armoede en verwante probleme steeds dikwels ongekwalifiseerd en  verwytend voor die deur van sg. wit bevoorregtes in die samelewing gelê, selfs deur ons geagte staatspresident vir wie ek die grootste respek agting het. Ons moet egter iewers by die plek kom waar ons gesamentlike verantwoordelikheid aanvaar en eerder saam werk om Suid Afrika weer op ʼn wenpad te plaas.

Die probleem is doodgewoon dat niemand daarvan hou om voortdurend in die beskuldigdebank geplaas te word nie. As dit dan in die verbygaan gebeur en daarby gelaat word kan ʼn mens nog daarmee saamleef. Om egter voortdurend te hoor dat die land in ʼn krisis is omdat ʼn bepaalde segment van die samelewing sus of so opgetree het maak nie vir goeie buurmanskap nie. Die een vinger wys maar vier wys terug, lui die bekende spreuk.

Die pad van verwyte slinger is ʼn doodloopstraat en lewer min positiewe resultate .

Ons het mekaar nodig, baie, baie nodig. Covid-19  infeksies, die wat steeds siek was, siek is en die wat gesterf het word nie in die kategorieë van wit, swart, en  bruin verdeel  nie. Siek is siek en dood is dood. Nood is nood ongeag waar dit voorkom. Liefde is kleurblind, dit hou ook nie boek van die kwaad nie.

Ons almal ly. Ons staan skouer teen skouer biddend dat die entstowwe wat getoets word effektief sal wees. Die Universiteit van die Witwatersrand het begin met toetse op 2000 vrywilligers om ʼn moontlike entstof te toets. Die effektiwiteit van Deksametasoon om die lewens van mense wat aan ventilators gekoppel is  te spaar word eweneens luidkeels verwelkom. Wêreldwyd word navorsing gedoen en entstowwe getoets. Ons bid vir ʼn spoedige deurbraak.

Onwillekeurig gaan ʼn mens se gedagtes uit na daardie utopiese oomblik 25 jaar gelede toe die rugby Wêreldbeker Suid Afrika se trotse bekroning was. Dit was die hoogbloei van solidariteit, nasiebou, gemeenskaplikheid, medemenslikheid en naaste liefde.  Dit was seker die naaste wat ons aan eenheid gekom het in ons wonderlike land van braaivleis, rugby en sonskyn. Ja, verlede jaar kon ons weereens die vreugde smaak om nogeens as wêreldkampioene uit die stryd te tree. Ongelukkig verbrokkel hierdie boustene na ʼn beter toekoms vir almal in Suid Afrika net te gou.

“Stronger together” was die slagspreuk van daardie idilliese oomblik.

Waarom sou hierdie triomfantelike oomblikke van korte duur wees?

Is dit vanweë politieke opportunisme en mag dat die belang van gewone burgers geoffer word?

In die proses ly mense, nie statistieke en “collateral damage” nie.

Ons moet doodgewoon aan die anderkant van verwyte, vooroordeel, agterdog, verdagmakery, beskuldiging en valsheid beweeg as ons Suid Afrika van die afgrond gaan red.

Hierdie oproep rig ek nie aan die adres van een segment van ons gepolariseerde samelewing nie maar lê dit voor die deur van elke vredeliewende Suid Afrikaner.

Jesus het dit onomwonde gestel, “julle moet mekaar liefhê”.

Love Changes Everything

Andrew Lloyd Webber

Love, love changes everything,

hands and faces, earth and sky

Love, can make the summer fly,

Or a night seem like a lifetime

Yes love, love changes everything,

Now I tremble at your name

Nothing in the world will ever be the same

Jannie Pelser

Organiseerder

ToekomsVenster