Stop vir ʼn slag
Ons het gisteraand die onaangename ervaring gehad dat my seun Zuan se verloofde, Rene, in ʼn motor ongeluk betrokke was. Sy en ʼn motorfietsryer het gebots maar, baie dankbaar kan ons getuig dat die Here beide bewaar het.
So ʼn gebeurtenis is traumaties en die emosionele skok is somtyds groter as die fisiese beserings. Ons bid dat Rene en Charles geen permanente beserings sal oorhou nie en dat die Here hulle ook binnekant sal genees.
So iets laat ʼn mens maar net weer besef dat die lewe kortstondig is en dat ons oomblik vir oomblik energiek, dankbaar en toegewyd moet lewe.
Daar is verskeie noodvoertuie op die toneel en daar was nie minder as drie ambulanse, ook die brandweer op die toneel nie. Sirenes het geloei en ligte het geflikker. Die toneel was duidelik ʼn ongeluksone en net die teenwoordigheid van noodpersoneel moes verbygaande motoriste tot versigtigheid gemaan het.
Ek het verstom gestaan oor die arrogansie en onwilligheid van talle verbygaande motoriste om die omstandighede te interpreteer en versigtiger te bestuur. Soveel motors het bykans geen beduidende spoedvermindering ondergaan nie. Omstanders moes behoorlik koes dat hulle nie ook raakgery word nie.
Wat is dit met Suid Afrikaners? Het ons so gewoond geraak aan misdaad en geweld, is die woede binne ons so oorweldigend, het ons afgestomp geraak vir die lewe as gawe uit die hand van God?
Wys dat mense stadiger moet ry het min impak gehad. Trouens, mense het die impromptu verkeersmanne duidelik kwalik geneem as dié hulle tot versigtigheid gemaan het.
As ʼn ongelukstoneel jou nie eers meer tot stilstand dwing nie, wat sal?
p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}
span.s2 {font: 14.7px ‘Century Gothic’; font-kerning: none}