Stadig maar seker begin Suid Afrika herstel

Stadig maar seker begin Suid Afrika herstel van die euforie wat met die Springbokke se oorwinning oor die Engelse gepaard gegaan het. Ek dink nie ek het al ooit (weliswaar op TV) straattonele gesien soos die wat die wenspan begroet het toe hulle stede en gemeenskappe in Suid Afrika aangedoen het nie.

Jonk en oud, swart en wit, Afrikaans, Engels en Zoeloe, Christen en Moslem, ANC en DA, ryk en arm, geleerd en ongeleerd het trots die oorwinning gevier.  

Vir ʼn oomblik was die trauma en uitdagings van die nuwe Suid Afrika vergete en het die droom van ʼn verenigde nasie onder een vlag ʼn werklikheid geword. Dit was en is geskiedkundig van aard en ʼn duidelike boodskap aan elke instansie, politieke party of agenda wat hoop om Suid Afrika verder te verdeel. Die nasie is besig om groot te word. Ons dink vir onsself. Ons sien wat moontlik is. Die dae waar julle die negatiewe sentimente van die verlede uitgebuit het om politieke en ander munt te slaan is verby. Die droom van ʼn reënboognasie is nie vergesog nie. #strongertogether. #sterkersaam.

Ons kinders kyk grootoog na volwassenes om te sien met watter plaveisel die pad na die toekoms uitgelê word. Greta Grunberg se woorde kom by my op. “How dare you”.

Ietwat arrogant miskien maar ʼn profetiese oproep om met gesuiwerde agendas oor die toekoms van Suid Afrika na te dink.

Die opvoeding van ons kinders is van kardinale belang. Die primêre opvoeder is die ouer. Ongelukkig en vanweë ʼn verskeidenheid redes kontrakteer ouers hierdie verantwoordelikheid aan die skool en deesdae in veel mindere mate aan die kerk uit. Werksdruk, die feit dat beide ouers werk, die onvermoë (vaardigheid)  van ouers om belangrike sake met hul kinders te bespreek, die verwydering tussen generasies wat net nie meer dieselfde dink nie, en ander faktore dra by tot hierdie hartseer werklikheid.

Ek verwys spesifiek na die opvoeding van ons kinders en leerders wanneer by seksualiteit kom. Die veel besproke voorgenome leerplan  van die Onderwysdepartement met betrekking tot die seksuele opvoeding van ons kinders word wyd bespreek en kritiseer, en dit nie sonder rede nie. Daar is iets soos ouderdomsverwante inligting en kennis.

Die feit dat daar nie met rolspelers gekonsulteer is nie is kommerwekkend en arrogant. Dit is nie die staat of Onderwysdepartement se kinders nie. Dit is ouers se kinders, meer nog God se kinders wat opgepas en opgevoed moet word.

Maar kom ons vee ʼn bietjie voor ons eie deur, ek praat nou van ouers.

Hoeveel van ons luisteraars wat nou ingeskakel is  het genoegsame en ouderdomsverwante seksopvoeding by die huis gekry.

Hoeveel moes volstaan met die boekie “wat elke seun en meisie” moet weet. Hoeveel volwassenes se ouers het met hulle gesels oor sake van die hart. Hoeveel het hul inligting by maats gekry en deesdae op die internet. Dit onder andere gee aanleiding tot kommerwekkende tiener swangerskap in alle gemeenskappe. Ons kinders word die prooi van seksuele misbruik. Wanneer die owerhede dan toetree en sê ons sal iets moet doen aan hierdie saak is ouers en geloofsgemeenskappe geskok en kwaad.

Ek sou die vraag na die verantwoordelike seksopvoeding van ons kinders ook voor die deur van die kerk kon lê. Word daar op relevante wyse met ons kinders gepraat.

Daar verskyn na ʼn  brief van ʼn tienerseun in ʼn Sondag koerant waar hy ouers gerusstel dat die betrokke leerplanne kinders nie meer seksueel aktief of promisku sal maak nie . Hy vra dat ouers en onderwysers ophou om te oorreageer. ʼn Opvoedkundige sielkundige verseker my dat kinders die goed lankal weet. Die media is ywerig om ons jongmense van inligting te voorsien, maak nie saak hoe krom, skeef en verdraaid dit is nie.

Ouers is te besig, die vertrouensverhouding tussen ouers en kinders ontbreek, ons laat ons kinders in die steek.

Dit gaan veel eerder oor die vestiging van waardes waarbinne hul seksualiteit op verantwoordelike wyse uitgeleef kan word.

In ʼn ander gesprek beveel ʼn onderwyser aan dat ouers kinders innooi in gesprekke en vra wat hulle wil weet. Ek is bekommerd dat kinders met al die blootstelling vandag eerder ouers kan inroep en vra wat hulle nog van die onderwerp wil weet. Oor die seksuele opvoeding van ons kinders moet hard en eerlik besin word.

Ek sluit af. Suid Afrika beleef tans volgens mense wat weet die grootste droogte in 100 jaar. Hier by ons het dit genadiglik lekker gereën die afgelope paar dae en ons is so dankbaar. Boere vra dat die regering sal ingryp om die bedryf van ondergang te red. Voedselsekerheid is in gedrang. Sommige boere pleeg selfdood. Hoe hartseer.

Ons mag nie ophou om vir ons boerdery gemeenskap te bid nie. Reddingsboeie kan net sover troos. Ons het kos op die tafel nodig en dit kom net met reën. Sal die Here nie sy geestelike en fisiese reën oor ons uitgiet nie.

ʼn Gepaste lied vra julle –

Seker nie reën druppeltjies die glas is gekraak van Al Debbo nie

reën, reën, lieflike reën – val in die laan, dit val om ons heen.

Reën, reën, as wolke kom ween – jubel my hart oor jou!”

ReplyReply allForward