Splinternuut

2 Kor. 5:14-17

Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het.

15           En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

16           Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie.

17           Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

Dit is ʼn wonderlike Evangeliese Waarheid, in Christus is ek ʼn nuwe mens, al die ou dinge het verbygegaan.

Ons verskil van mekaar ook wat die bondeltjie waarmee ons na die Here toe kom. In daardie bondeltjie lê ook die verkeerde dinge wat ons gedoen, gesê en gedink het. So kom elkeen van ons. Die Bybel leer ons immers, niemand is regverdig nie, selfs nie een nie.

As ons op eie meriete by God kon uitkom het Jesus verniet gesterwe. Dit is juis ons totale onmag om voor Hom te kan staan wat ons dring na Jesus toe. In Hom het ons die verlossing, die regverdigmaking, die heiligmaking, die totale pakket.

Niks kan ons skei van sy liefde nie en niemand kan ons uit sy hande ruk nie.

Die bose is ons teeparty. Hy weet ook wat in daardie bondeltjie is. Hy neem genoeë om ons gedurig daaraan te herinner. Hy ondergrawe ons vertroue in self en ook in God. Hy maak ons glo dat selfs die Here se genade nie genoeg is nie.

Hy kasty ons sonder ophou en kyk of hy ons nie die spoor heeltemal kan laat byster raak nie.

Wie by Jesus uitgekom het, wie Jesus naderby getrek het, sê die Bybel is nuut. Die bondeltjie is leeg gemaak by die voet van die kruis. Dit is trouens aan die kruis vasgespyker. Jesus het ook die inhoud van daardie bondeltjie gedra en vergewe.

Wie kan ons dus aankla? Christus het gesterf, meer as dit, Hy het ook opgestaan, sit aan die regterhand van die Vader en pleit vir ons.

Mens moet kies of jy soos ʼn verloste wil lewe of wil voortgaan om swaar te dra. Baie keer sit ʼn mens die bondeltjie neer, hoor dat Jesus betaal het, dank Hom selfs daarvoor maar neem dit weer met jou saam.

Nie as ʼn mens reg verstaan nie. Die ou dinge het verbygegaan. Alles het nuut geword. Die bose het geen aanspraak op my lewe nie. My naam is in Sy handpalm opgeskrywe. Hy hou my gedurig voor oë. Hy het en sal my nooit prysgee, begewe of verlaat nie. Wat Hy begin het sal Hy klaarmaak. Hy is getrou tot aan die einde.

Ek wonder of jy nog steeds dra aan die goed waarvoor Jesus gesterwe het.

Dis dom en onnodig.

Maak vandag klaar daarmee.