Speel in harmonie

 Ek hoor ʼn interessantste storie in die week. Twee groepe musikante oefen in twee verskillende lokale aan dieselfde musiekstuk. Dis dieselfde instrumentasie en  verwerking met alles wat nodig is. Hulle speel dieselfde ritme en tempo ( click track) sodat vir alle praktiese doeleindes die twee uitvoerings volledig op mekaar kan “pas”. (Die ingeoefende musiek word in beide lokale opgeneem).
Wanneer die oefening gedoen word egter wil dit net nie werk nie. (uit ritme en pas)
Dan word die, tot nog toe vir mekaar onbekende musikante, in een lokaal bymekaar gebring waar hulle sosialiseer en mekaar beter leer ken. Mense wat dieselfde instrumente bespeel ruil gedagtes uit. Daar heers ʼn hartlikheid en samehorigheid onder al dié bekwame mense. Die oefening word dan herhaal. Die resultaat is verrassend. Die musiek (opgemeen) pas een honderd present oor mekaar so asof die musikante in een lokaal was en onder leiding van een dirigent gespeel het.
Dit laat my dink aan menswees en die hoë mate van vervreemding wat in die Suid Afrikaanse konteks leef. Ons ken mekaar nie,  dit geld waarskynlik selfs vir die mense wat rondom jou woon. Mede gelowiges in die erediens bly onbekend want ons is te haastig om by die volgende afspraak te kom, daarom kan ons nie bly vir koffie drink na die tyd nie. Daar is doodgewoon net nie meer tyd ( ek sê dit nie veroordelend nie, ons het almal aan hierdie rotte resies gewoond geraak) om in kleingroep bymekaar te kom gedurende die week nie. Ook by die werk beweeg ons in sirkels. Die mense op die volgende vloer is onbekend.
Om nie eers te praat van mede Suid Afrikane wat dieselfde spasie met ons en ons met hulle deel nie. Ons streef vrede na maar doen min moeite om mekaar te verstaan. Dis is ʼn uitnemende teelaarde vir vooroordeel en vrees. Onbekend maak….onbemind. Dit bly waar. 
Ons begeer dieselfde dinge vir ons land, ons kinders en komende geslagte.
Ons gaan dit nie in ons kompartemente bereik nie. 
Ons moet mekaar iewers ontmoet. 
Ons moet vra wat maak die ander bly en hartseer. 
Ons moet vra na mekaar se verstaan van ons wêreld en hoe vorentoe.
Daar is geen substituut vir gesprek nie. 
Die alternatief is vreesaanjaend.