So gaan ons dit nie doen nie!!

Daar is ʼn paar sake wat prominensie geniet in die media en wat ʼn mens se aandag in beslag neem
Dalk die vernaamste die immanente al dan nie vertrek van ons huidige staatspresident, mnr Zuma. Volgens beriggewing is rolspelers op hoë vlak gewikkel in samesprekings hoe mnr Zuma begelei kan word om gewilliglik en sonder vernedering afstand te doen van die troon. Soos ons hom leer ken gaan dit nie maklik wees nie, daarvoor is hy net n te uitgeslape strateeg en boonop omring van mense wat ewe diep geïmpliseer word in verskeie dade wat na bewering aan kriminaliteit grens. Hy sal hy daarvoor sorg dat hy solank as moontlik die onafwendbare uitstel.
Of mnr Zuma ooit gaan rekenskap gee vir die honderde beweerde oortredings is ʼn ope vraag. Sy eweknie in Zimbabwe het dit reggekry om sonder om enige verantwoordelikheid te aanvaar van die toneel te verdwyn.
Dalk is die kool die sous nie werd nie en is die beste ding wat kan gebeur vir mnr Zuma om te vertrek sodat die hoofstuk afgesluit kan word. Hoe regverdig dit sal wees is ek nie seker nie. Amnestie vir hom moet tog ook amnestie vir ander beteken. Hoe kan hy wegstap van sy verantwoordelikheid terwyl ondersoeke na staatskaping en aanverwante sake  nou in alle erns van die grond af kom?  Dit is duidelik dat die ondersoekliggame geen steen onaangeroer laat ten einde uit te vind wat gebeur het en wie daarvoor verantwoordelik gehou moet word nie.
Dit lê in die mens se aard dat hy nie geredelik verantwoordelikheid aanvaar nie. Die manier waarop die blaam verskuif word van een na die ander persoon in verskeie verhore en ondersoeke, ook die Esidimeni treurspel, is onrusbarend. Dis nog meer ontstellend as nou uitgevind word dat nog mense gesterf het, dat daar ʼn beduidende getal is waarvoor nie rekenskap gegee kan word nie (stel jouself dit voor sestig mense is net weg sonder dat enige iemand oor hulle navraag gedoen het nie. Voel vir my die familielede van hierdie vergete mense is ewe skuldig as die persone wat hulle in die bedenklike omstandighede laat beland het.) Dit blyk ook dat miljoene rande soek is.
Het mense dan geen gewete nie?
Hoe lank duur dit voordat jou gewete tot so ʼn mate gekompromitteer is dat mense se lewens nie meer saak maak nie?
Dit geld eweseer vir die genadelose moorde wat steeds daaglikse nuus is.
Dis verby tragies.
Die droogte in die Kaap bly voorbladnuus. Dag zero skuif heen en weer op die kalender maar lyk onafwendbaar. Ook wat hierdie saak betref is daar oënskynlik soveel politiekery betrokke dat ʼn mens heeltemal verward raak. Rome brand maar die mense stry onder mekaar. Dis so tipies, ander se verleentheid word opportunisties vir politieke en persoonlike voordeel aangewend
Die wyse waarop mense water aanry Kaap egter  toe is prysenswaardig. Ook die opoffering wat inwoners in Kaapstad moet maak.
Onderwysers wat kinders misbruik is weer voorbladnuus. Dis ondenkbaar dat leerkragte kinders op so ʼn wyse kan misbruik. “Dit lyk vir my dat daar belangriker kwessies is as Afrikaans as voertaal op skool mnr Lesufi. Ek lees dat u ʼn energieke persoon is vir wie die opvoeding van ons kinders erns is. Die hemel weet ons het sulke mense nodig”.
Ons is dankbaar vir Angie Motshekga se gesonde oordeel oor Afrikaans in Suid Afrika. Soos sy tereg sê, meer bruin en ander mense praat Afrikaans as selfs blankes.
Miskien fokus waar dit regtig nodig is?
Beskerm ons kinders teen gewetelose onderwysers en bou skole sodat almal ʼn behoorlike opvoeding kan kry.
As ek egter vandag se gedagtes ʼn opskrif moet gee is dit “so gaan ons dit nie maak nie”.
Daar is twee maniere van reageer as ʼn mens voel dat jy in ʼn hoek gedryf is. Hierdie “hoekervarings” is deel van die lewe.
Die meeste van ons is geneig om onsself met alles wat ons het te verdedig, meer dikwels deur ons sg. teeparty met alles te probeer neutraliseer of ongeloofwaardig te maak.  
Ons hoop dat ons teeparty so die skrik op die lyf gejaag sal word dat hy die aftog blaas.
Dit kan gebeur maar niemand het gebaat nie. Ons teeparty kan oordeel die kool is die sous nie werd nie, die mense sal nooit verander nie en ons doen in elk geval wat ons onsself voorgeneem het.
Op die manier is en bly ons die verloorders.
Dis min dat ons teeparty die aftog blaas. Hy oordeel eerder dat ons bullebakke, boelies en slegte gespreksgenote is.
So ʼn manier van konflikhantering werk nie , dit het nog nooit en dit sal ook nie nou nie.
Dis in elk geval nie wat God doen wanneer Hy met ons werk nie.
Die ander is die sagte benadering. Geduldig luister, die feite oorweeg, die konteks in ag neem, diep asemhaal en bid vir geduld en genade. Die ander se argument en redevoering erken en die uitnodiging tot gesprek soos ʼn heer aanvaar.
Dit getuig van nederigheid en gewilligheid om die ander in ag te neem.
Dis die aard van die gesprek waartoe ʼn nuwe bedeling ons uitnooi.
Grond is een kwessie wat ter bespreking is, veral die gevoelige onteiening van grond sonder vergoeding.
Onderwys en veral taal is ʼn ander baie sensitiewe kwessie.
Die ongelykheid in die samelewing nog ʼn ander asook die herverdeling van rykdom in ons land.
Wanneer iemand iets sê, bv. mnr Ramaphosa het gesê “whites have owned the economy for too long” (Media 24)
volg ʼn stroom van negatiewe bombastiese retoriek op sosiale media asof ons dink niemand lees dit nie. Dit is boelietaktiek, onvolwasse en getuig van ʼn onbeholpenheid om met seerkry te werk. Seerkry is deel van die lewe.
Welcome to the real world.
Dis tyd dat ons soos waardige gespreksgenote aan die onderhandelingstafel aansit en rustig word. Wie van ons, toegegee daar is mense hier en daar het reeds iets betekenisvol verloor op weg na ʼn nuwe Suid Afrika, het al iets op n ongeregverdigde wyse prysgegee?
Niemand het voor my huis parkeer en my beskeie besittings gekonfiskeer nie.
My kinders gaan steeds skool toe, ek hou nog steeds vakansie, ons eet van tyd tot tyd uit, ek lees my koerant in my taal, my kerk se deure is nog steeds oop.
In ʼn wêreld waar die meeste mense met die voete loop, in eenvertrek opslaan huisies leef, by my deur aanklop en kos vra of werkloos op die hoek van die straat sit en wag op ʼn barmhartige samaritaan.
Hoe harder ons vasklou hoe vinniger gaan ons dit verloor, wat dit ook al is wat ons so angsvallig vashou.
God het die wêreld so liefgehad dat Hy gegee het.
Dis die lewensbeginsel vir kinders van die Here veral.
Soos ons Koning moet ons bereid wees om te gee sodat ander gered kan word.
Ek sukkel self met hierdie les maar weet dit die enigste manier vorentoe.

Groete
Jannie Pelser
Rant en Dal Gemeenskapkerk

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
p.p2 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000; min-height: 18.0px}
span.s1 {font-kerning: none}