Sjoe ek is geseënd

Dis bibberkoud. Ek is ʼn “koulike” mens en sukkel om warm te word in die winter. Sommige mense sê ons het nog nie eintlik winter gehad nie maar enige iets onder kamer temperatuur is koud genoeg!
Ek sien met my hele wese uit na die eerste tekens van lewe. Aanstons sal die bome begin bot en die gras groen word. Wat ʼn heerlike verwagting.
My gedagtes is by soveel mense wat koud slaap en koud wakker is omdat hulle karige besittings nie voorsiening maak vir iets anders nie. Ons is somtyds so ondankbaar en aanvaar God se guns as vanselfsprekend.
Warm water uit die kraan is mos vanselfsprekend, so is die ruim huis met sy baie vertrekke.
Die sop prut op die stoof en ʼn warm drankie voor slaaptyd verseker ʼn goeie nag rus.
Nog ʼn kombers uit die kas haal as dit regtig koud is en die kaggel aansteek om ekstra hitte te bring.
Draai loop in die nag is net met die gang af.
Ons is buitegewoon begenadig, selfs effe bederf.
Ek noem hierdie dinge nie om te verwyt nie maar om ons slordige ondankbaarheid aan die orde te stel. In die lig van 17 miljoen mense wat aangewese is op staatspensioene om te oorleef het ons min om oor te kla.
Maak van jou warm bad of stort ʼn liturgiese oomblik. Dank God vir sy genade.
Bid vir hulle wat sukkel en swaarkry.
Deel jou seën met ander.
Ps. 16:5
Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af.
‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.
Jakobus 2:15-17
“As daar nou ’n broeder of suster . . . gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie​—wat baat dit? . . . Geloof, as dit geen werke het nie, [is] in sigself dood.”
MATTEUS 25:42
want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie;
Groete
Jannie Pelser