Sjoe, dit is ʼn emosionele week wat agter ons lê. Die 54e ANC
nasionale konferensie met sy nagenoeg 5000 afgevaardigdes het plaasgevind en
soveel mense, soveel opinies.
Sommige is opgewonde, ander hou hulle asems op en ander is
sommer net negatief. Dit sou  interessant wees om ʼn meningspeiling te doen
onder gelowiges en te hoor hoedat hulle voel. Voel is die regte woord, voel
want dis al wat ons tans op die tafel het. Die top ses en NUK se werksaamhede
het nog nie eers begin nie en wat uiteindelik sal seëvier is vir almal ʼn
raaisel.
Ek sou wou waag om te sê dat die meerderheid mense verlig en
dankbaar is dat mnr Ramaphosa as leier verkies is. Ons hou van die
teenkorrupsie geluide wat hy in sy verkiesingsveldtog gemaak het en ons weet
dat korrupsie die grootste kopseer van ons land is.
Net wanneer ʼn mens, soos die gewoonte is die slegte by die
ander wil gaan soek word ʼn mens ontnugter deur korrupsie in eie geledere.
Die Steinhoff debakel het ons weereens intens bewus gemaak
van die ontsettende versoeking wat met geld gepaard gaan.
Geld, mag, oneerlikheid en  bedrog is meermale bedmaats. Die Bybel is nie
verkeerd as dit ons maan om tevrede te wees met wat ons het nie.
Vergenoegdheid is ʼn wonderlike gawe. Mens kan tog net een
bord kos eet op ʼn slag, in een motor ry, een stel klere aantrek en in een huis
woon.
Ek weet dis lekker om bederf te word met mooi goeters. Dit
is egter nie ons identiteit nie. Gelowiges se identiteit is ʼn “in Christus
identiteit” en dit is ver bo aarde rykdom, status en prestasie.
Ons los al die “goed” agter, die “Ventertjie” gaan nie saam
begraafplaas toe nie.
Die konferensie het my op ʼn manier aan kerk laat dink. Ek
het heelwat daarvan gevolg en die beeldmateriaal van die klomp mense bymekaar
was aangrypend. Dit moes nommerpas beplanning gekos het om soveel mense te
akkommodeer, te voed en alles wat daarmee saamgaan.
Die oomblikke voordat die uitslag van die top ses verkiesing
bekend gemaak is was plofbaar. Die sing en dans het die temperatuur opgeskuif
en die atmosfeer was swanger met verwagting. Ek weet dit is in oordragtelike
sin maar ek het gewonder of ek al by ʼn kerkbyeenkoms of sinode was waar die
atmosfeer so gelade was. Waar die afgevaardigde in die gange gedans het omdat
hulle met verwagting leef.
Ek weet sommige mag die vergelyking onvanpas vind maar vir ʼn
oomblik wou ek deel van die skare wees. Ek was opgevang in die opgewondenheid
en vreugde, die verwagting en energie. Christene het immers rede om fees te
vier.
Van leierskap gepraat, Kersfees gee ander inhoud aan die lewe.
Christus het ons stukkende wêreld betree en vir ons kom wys
dat ʼn mens sinvol oorwinnend en betekenisvol kan lewe al het jy nie alles nie.
Trouens Jesus sou as ʼn arm mens beskryf kon word. Hy sou deel wees  van die groot klomp mense in ons land wat nie
genoeg het om van te lewe nie. Weldoeners het vir hom en sy dissipels gesorg.
Hy het hom nie by Herodus, die invloedryke Pilatus of die
geestelikes van die dag ingewurm nie. Hy het nie gesoek na invloed en rykdom
nie. Hy het Homself kom gee en dit is waaroor Kersfees ten diepste gaan.
Ons het ʼn Leier. Sy Naam is Jesus. Hy is die een van wie
daar in Jes. 9 geskrywe staan. “Vir ons is ʼn Seun gebore, aan ons is ʼn Seun
gegee, Hy heers en Hy word Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader,
Vredevors genoem. Sy heerskappy brei uit, en Hy bring vrede en voorspoed. Hy
sit op die troon van Dawid en Hy regeer oor sy Koninkryk. Hy hou hierdie
koninkryk in stand deur reg en geregtigheid, vir altyd en tot in ewigheid. Die
onverdeelde trou van die Here sorg daarvoor.  
Die groot verskil is dat ons leier in alle opsigte blaamloos
is. Daar is nie vlek of rimpel by Hom nie. Hy is ook altyd by ons en stel ons
nooit teleur nie. Hy is in alle opsigte navolgenswaardig.
In stede daarvan dat hy engele gebruik om sy werk op aarde
te doen gebruik hy mense. Mense wat in alle opsigte ewe broos en geneig tot
sonde is as die leierskap wat by die konferensie aangewys is.
Hy weet dat hierdie mense, dit sluit ons in, voete van klei
het. Desnieteenstaande kies hy om deur ons te werk.
Dit is miskien gepas om altyd net weer na onsself te kyk
voordat ons ander mense se skandes en skades aan die groot klok hang. Almal
verdien ʼn kans. Miskien  is dit waar van mnr Ramaphosa en sy span ook.
Die wat bagasie het moet daarmee handel. Elkeen sal
geoordeel word volgens wat hy gedoen het of dit goed was of sleg sê die Bybel,
en dit sluit ons in.
Ek moet darem ook sê,  die gebed wat gebid is na die verkiesing het
my in die hart gegryp. Omdat die gebruik is om so te bid dat ander
geloofsgenote nie aanstoot neem nie was ek enorm verras en opgewonde toe die
persoon wat die gebed gelei het afsluit met die woorde –
“In the name of the Father, the Son and the Holy Spirit”.
God verras ons altyd weer, stry, niemand het dit verwag nie.
Gaan die toekoms met verwagting geloof en gehoorsaamheid
tegemoet !!
“In the Name of the Father, The Son and the Holy Spirit”.
Amen.
Groete
Jannie Pelser

Ps. Jou perspektief op die konferensie?