Sensitief vir ander se seerkry

Ai mense, niemand kan sê dat ons in ʼn vervelige land woon en werk nie. Ontstellend by tye, ja, somtyds maak dit jou sommer warm onder die kraag, die dinge wat gebeur, maar ons het darem iets om oor te praat, inderdaad iets om oor te bid.

Die afgelope week is die media oorheers oor die ongelukkige advertensie wat Clicks, die bekende winkelgroep geplaas het. TRESemmé se haarprodukte is ter sprake en beide hulle en Clicks het sedertdien verskoning aangeteken.

Soos ons ons vriende in die EFF ken het hulle gewag vir ʼn goue skinkbord oomblik soos hierdie. Bykans oornag het hulle gereël dat tientalle takke met dansende en betogende, baie aggressiewe en onvriendelike mense konfronteer word.

Ek dink nie ek verbeel my as ek die uitsprake van menere Malema en Floyd Shivambu intimiderend en opruiend gevind het nie. In een lied wat gedreunsang word word Clicks en sy mense na die plek gestuur waar ons nie eendag wil land as ons eers van hierdie hartseer werklikheid afskeid geneem het nie. Julle kan die video op News 24 sien.

Ten spyte van lippetaal wat sa dat hulle nie mense aanhits tot geweld en eiendomsbeskadiging nie is dit duidelik dat hul volgelinge ʼn ander verstaan het. Emosie het ʼn manier om met ʼn mens op loop te neem en voor jy jou kan kry is mense handgemeen.

Takke het deurgeloop en die winkel moes gister sluit ten einde getraumatiseerde werkers te beraad. Volgens beriggewing ontmoet Clicks en die EFF mekaar vandag vir samesprekings. Ons vertrou dat die partye mekaar sal vind.

Nou laat ek onmiddellik se dat die advertensie van onsensitiwiteit spreek, daaroor is daar geen twyfel nie.

Mens verwonder jou dat so ʼn advertensie geplaas kon word, nee, dat dit hoegenaamd bedink kon word. Mense is fyn besnaarde wesens en ons identiteit is vir ons kosbaar. Boonop is ons na die beeld van God geskape en hier om sy Naam te verheerlik. Dat mense in kategorieë van goed en slag, mooi en lelik, slim en dom, aanvaarbaar en onaanvaarbaar geplaas word, is tragies.

Etikette is onbedagsaam, kwes en maak baie seer. Vir baie lank moes mense hoor dat hulle minderwaardig, onopgevoed en ʼn hele paar ander dinge is. Dit was die tragiese inhoud van ons apartheidsboodskap.

Ons, die beoefenaars van apartheid het mense onsettend seergemaak en te na gekom. Ons het oor die algemeen min begrip vir die lyding wat ons manier van dinge doen vir mense veroorsaak het.

Dat sommige mense die advertensie as onsinnig, nie belangrik of vir ʼn storm in ʼn teekoppie  afmaak wys dat daar steeds mense is wat nog nie verby hierdie leuen dat sommige mense belangriker is as ander beweeg het nie. Tragies maar waar.

Ons moet ons kop in skaamte hang as ons nie ten minste empatie het met mense wat vir die hoeveelste keer moes hoor dat hulle sub homo sapiens is nie. Dit is ʼn belediging vir God se handewerk.

Aan die ander kant is ʼn mens nie blind vir die politieke munt wat mense soos die EFF uit hierdie toedrag van sake slaan nie. Hul optrede is onaanvaarbaar en ek weerhou my van meer beskrywende woorde. Hul motivering is deursigtig en net blindes kan nie sien waarmee hulle besig is nie.

Die leierskap preek een ding maar leef ʼn ander. Ek sidder om te dink watter toekoms ons tegemoet sal gaan as sulke mense aan die stuur van sake moet wees. Mag die Here ons daarvan bewaar.

Daarteenoor staan die protesaksie van Move One Million wat verlede naweek plaasgevind het. Die organiseerders moet komplimenteer word met ʼn baie suksesvolle inisiatief waarvan ek glo ons nie die laaste gesien het nie.

Intussen het die lente, weliswaar ʼn week of wat laat, maar tog sy verskyning by ons gemaak.

Al die veld is vrolik en al die voëltjies sing.