Rolle in die huwelik

Die naweek is verby. Skielik is jy terug in die gejaag van elke dag. Die lewe wag vir niemand nie en ń mens moet “uithaal en wys” . Die vroegoggend opstaan en doodmoeg gaan slaap. Wees versigtig vir die dodelike roetine. Breek dit doelbewus deur stukkies ontspanning, veral saam met mekaar tussenin.

Daar is baie wat in en rondom die huis en huwelik moet gebeur. Ongeag van jou posisie en status is,  daar is sleur werk wat aandag verdien. Die honde moet versorg word en die vullisblik uitgeneem word. Wasgoed moet gewas word en kruideniersware moet aangekoop en aangevul word. Min van ons het mense in diens wat al hierdie take namens ons kan onderneem.

Dan natuurlik die rondry van kinders. Dis die een na die ander aktiwiteit, kuier by maats en oorslaap wat gereël moet word. Om tuisteskepper te wees is eweneens ń voltydse betrekking.
Die huishouding kan net vlot as elkeen sy deel doen. Die werk is eers klaar as dit klaar is. Die luuksheid dat een voor die TV stelling inneem terwyl die ander benewens die feit dat ń betrekking in stand gehou word ook nog moet kook, kinders bad, bedtydstories lees en broodjies vir more pak is nie volhoubaar nie. Iewers gaan die frustrasie oorkook.

Praat met mekaar oor wat redelikerwys van die ander verwag kan word sodat die verhouding heeltyd wen. Daar is nie meer tipiese man en vrou take nie. Van die beste kokke is manne. Die vroue staan deesdae glad nie meer terug vir die goed wat tradisioneel deur manne gedoen is nie. Ons lewe in ń nuwe tyd. Aanvaar mede verantwoordelikheid vir die ordelike  en vlot verloop van jul huwelik, ook wat die sleur betref.

Gebed

Here dankie vir die geleentheid om binne die ruimte van die huwelik diensbaar te wees. Vergewe as ek in die verlede lyf weggesteek het. Ek wil my deel doen en saam werk dat ons verhouding in alle opsigte vlot. Dankie vir my lewensmaat.
Ons prys U
Amen.