Probeer God ons aandag kry?

Probeer God ons aandag kry?

Die wêreld is ʼn barensnood om die woorde van Romeine 8 (ou vertaling) te gebruik. Die media bring internasionale gebeure baie naby en kitsnuus gebeur op die oomblik dat dit op ʼn ander plek plaasvind. Ons sien letterlik hoedat die natuur chaos veroorsaak in een deel van die wêreld terwyl ons geborge in ons sitkamer sit en koffie drink. Dis amper surrealisties, so asof dit nie gebeur nie, ʼn Hollywood produksie. Maar dit is nie, dis die koue werklikheid van ʼn wêreld wat koers verloor het en die natuur wat daaroor in opstand gekom het.
Die verwoestende effek van natuurrampe word geredelik aan die vernielsug van die mens toegeskryf. Materialisme, drang na beheer en onderwerping, aardverwarming en uitlaatgasse ens. speel onheilspellend uit in aardbewings, tornado’s, modderstortings, tsunami’s, ens.
Daarbenewens vind verwoesting in die naam van godsdienstige ekstremisme plaas wat totale gemeenskappe van die aarde wegvee. Diktators dreig met waterstofbomme en chemiese wapens wat alle vorige oorloë in die skadu stel. Opstande onder gemeenskappe wêreldwyd het ʼn alledaagse verskynsel geword. Hier en daar raak iemand die pad totaal byster en jaag met ʼn motor in onskuldige mense in. Tientalle pleeg selfmoord in ʼn siek poging om God te beïndruk en sy koninkryk op aarde te vestig. 
Plaaslik het ons ons kwota van verwoesting. Miljarde rande se skade word aangerig deur mense wat nie verder dink as wat hul neuse lank is nie. Die vraatsug van magbehepte despote wat onder die vaandel van politici die land se koffers leeg steel is ontstellend. Bykans twee miljoen hoenders moes reeds vakant gemaak word vanweë voël griep en dreig om die hele bedryf in een te laat stort. So kan ʼn mens aangaan.
Probeer God ons aandag kry? Wat sou Hy sê?
Gebed
Here gee ons geopende oë en ore sodat ons kan sien en hoor en gehoorsaam word.
Amen

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}
span.s2 {font: 14.7px ‘Century Gothic’; font-kerning: none}