25 Junie 2017

Nuwe CD-vrystelling “Vat my Hand” – Jannie Pelser

 CD cover

ToekomsVenster stel op Sondag, 25 Junie ds. Jannie Pelser se nuwe prag album “Vat my Hand” bekend.

Dit is Jannie se agste CD en is gebore uit sy persoonlike geloofsreis met die Here. Die naam suggereer hande vat op verskeie maniere. Mense onderling asook God en mens.

Dit is hierdie betrokkenheid bymekaar wat sin aan die lewe gee. Jannie voel dat Suid-Afrikaners daagliks met vele uitdagings gekonfronteer word. “Daarom hierdie gebed dat die Here ons hande sal vat, en ons Syne, maar ook dat mense mekaar se hande sal vat op reis na die toekoms.”

“Die album is ʼn versugting dat die Here sy kinders sal vul met sy Gees, dat Hy hierdie wêreld ʼn gesonder plek sal maak, veral Suid Afrika”, verduidelik Jannie.

Jannie het die meeste van die melodieë en lirieke self geskryf. Hy sê dat hierdie nuwe opname  ʼn droom is wat waar word.

Jannie is sedert 2017  vryskut dominee en vertrou dat hy deur middel van persoonlike optredes die liedere met mense sal kan deel.

Iets meer oor die CD:
Daar word nagedink oor persoonlike groei in ʼn tyd van aanvegting,  ook teen die agtergrond van God se betroubare beloftes (“Ek soek en vra”). Jannie vra en sing oor die stand van die kerk teen die agtergrond van die voorwaarde en beloftes vervat in 2 Kron. 7:13 (“As my volk”). Hy verken die onbekendheid tussen burgers van ons land en die noodsaak van beter verhoudinge (“Kultuur”). Hy worstel met die hartseerverhale van vlugtelinge regoor die wêreld wat soms met hul lewens boet op weg na ʼn beter toekoms (“Hoor ons”). Hy sing oor die liefde (“Liefdeslied”) en nooi die Heilige Gees om nuut in sy kinders te werk (“Kom Heilige Gees”). Hy verlang na die rustigheid van saamlewe met God (“Stilte”) en sing lekker aan Retief Burger se pragtige lied “Sekelmaan”. Jannie verwoord sy ervaring met die gevoel van hopeloosheid (“Dis net U”) en beroep hom op die sorg en beskerming van die Almagtige (“Lei ons Here”).

Sy dogter Ninquja en skoonseun Hansie Roodt sing ook twee besondere liedere. Hiermee maak hulle hul debuut en die mooi sang sal bekoor.

Die verwerkings is deur Ettienne Lane gedoen en Clemens Mans het die produksie behartig.

Jannie dra die CD aan sy eggenote Suzette, vier kinders en twee kleinkinders op. Dis is volgens hom sy grootste rykdom. Hy het ook besondere waardering vir sy geestelike tuiste, Rant- en- Dal Prisma.

Iets meer oor ds. Jannie Pelser:
Jannie is reeds 32 jaar lank by Rant-en-Dal Prismagemeente in Krugersdorp en was die laaste paar jaar senior leraar en visionêre leier. Jannie waag waar ander dalk sal huiwer. Dit is sy lewensfilosofie om elke dag aan te gryp en te doen wat jou hand vind om te doen. Hy is sedert Maart vanjaar ʼn vryskutleraar wat sy passie vir herlewing, persoonlike geloofsontwikkeling en groei uitleef. “Ons noem dit ʼn ‘roeping’, maar die Here roep doodgewone mense om Sy werk te doen. Op 63 is dit nogal uitdagend – dit voel asof ek ʼn ‘bungee jump’ doen.”

“As entrepreneurdominee tree ek graag by gemeentes op met sang en prediking en fasiliteer eredienste, lofprysingsgeleenthede, opleiding, en dies meer. Ek is ook betrokke by die media en ontwikkel en verpak programme wat op verskeie gemeenskapsradiostasies uitgesaai word.” Hy tree ook op as die gasheer van twee TV-produksies wat weekliks op Kruiskyk TV en TBN in Africa uitgesaai word.

“Ek vertrou die Here vir nog geleenthede om die Evangelie deur middel van die media uit te dra. Ons ontwikkel ook toerustingsmateriaal (stiltetydboeke, manne-en vrouedagboeke, ens.) by ToekomsVenster”.

Iets meer oor ToekomsVenster:
ToekomsVenster is ’n organisasie wat in 2014 in die lewe geroep is ten einde gelowiges te bekwaam om die eise wat ʼn snel-veranderende wêreld aan hulle stel met energie, integriteit en oortuiging te hanteer. Dit wil ʼn agent vir persoonlike en korporatiewe transformasie wees om sodoende ʼn betekenisvolle toekoms vir komende geslagte te help skep.

Dit word gedoen deur:

  • in samewerking met media-vennote in Suid-Afrika bogenoemde boodskap te verkondig en te versprei,
  • die ontwikkeling van doelmatige en geïnspireerde toerustingmateriaal om sodoende die nodige teoretiese en geestelike onderbou daar te stel,
  • die benutting van geleenthede in plaaslike gemeentes regoor Suid-Afrika om die boodskap van persoonlike toewyding, heiligmaking en herlewing te versprei,
  • die optimale aanwending van musiek en sang in belang van en vennootskaplik met bogenoemde,
  • gemeenskapsgedrewe projekte, en
  • die benutting van ander geleenthede vir Woordbediening soos eredienste, manne-, vroue- en jeugbyeenkomste, ens.

Navrae en besprekings: Drienie 011 665 2017 of www.toekomsvenster.co.za

 

Rig navrae oor die persvrystelling, of om ‘n telefoniese onderhoud met ds Jannie Pelser te reël, aan Madelaine van Wyk by 082 785 6397.