“Payday blues”

“Payday blues” 

Ek hoor oor die radio die omroeper verwys na betaaldag (sommige mense kry mos die 25e hul salaris) en stel voor dat mense hulself ook ʼn bietjie bederf. Na alles, dis ʼn hele maand se swoeg en sweet om daardie paar rand te verdien.
Die gedagte van “payday blues” het by my opgekom omdat vir so baie mense betaaldag min vreugde inhou. As die krediteure, kredietkaarte, skoolfondse, tiendes, ens. eers betaal is bly daar bitter min, indien enige iets oor. Komende maand se benodigdhede word op die kredietkaart gekoop wat pas betaal is solank ʼn mens binne jou limiete bly. Banke en finansiële instellings bied fasiliteite aan wat mense in nog dieper moeilikheid laat beland. Daar is gereeld iemand wat bel en my “gelukwens” omdat my kredietlimiet nou verhoog is. Ek wys dit dankbaar van die hand omdat ek die stryd ken om likied te probeer bly.
Ons is rentmeesters van alles wat die Here aan ons toevertrou. Ek wonder stellig of volgende maand se uitgawes op my kredietkaart deel van sy voorsiening is. Dalk moet ons weer ʼn keer nadink oor die middele wat die Here in ons hand plaas en hoe ons daarmee omgaan.
Sekere items kan op geen ander wyse bekom word as oor ʼn termyn nie. Behuising en voertuie is daarvan ʼn goeie voorbeeld. Oor ander sal ons dalk moet begin redeneer..as die geld klaar is is dit klaar, ons sal moet wag vir volgende maand.
Dis net ons wat die strokie van aankope teken, wat die pin nommer insleutel by die kasregister, niemand anders nie. Dis ons wat verantwoordelikheid sal moet aanvaar vir ʼn sobere leefstyl.
Ons vergelyk meer dikwels boontoe en voel minderwaardig wanneer ons die duur verbruikersgoedere sien wat ons buurman geniet. As ons ʼn slag afwaarts vergelyk mag dit ons met nuwe dankbaarheid vervul en mag ons die lied “genade onbeskryflik groot het U aan my bewys” met nuwe oortuiging sing.
Sterkte en goeie oordeel toegebid.
Gebed
Here U is goed vir ons en ons dank U.
Ons wil so graag uitkom met ons geld.
Help tog asb.

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}

Amen