Pad na vrede in SA gaan álles verg

  • Beeld
  • 13 Apr 2018
  • Ons Grondwet verklaar dat die land aan al die mense behoort wat daarin woon, verenig in hul verskeidenheid. By implikasie erken die Grondwet diversiteit as ’n gegewe, maar spreek die vertroue uit dat dit nie verdeel nie, maar gebou op onderlinge respek vir mekaar, die eenheid dien.
    Ongelukkig gebeur dit dat die verskeidenheid ’n rowwe kwota spanning na vore bring.
    Ons dra almal aan die bagasie van vooroordeel, agterdog en vrees. Dis egter nie betroubare boustene vir ’n land waarin harmonie en vrede moet heers nie.
    Die gesegde “wat jy saai, sal jy maai” is hier veral waar. Tans groei die vrug van verdeeldheid reeds welig op die land en bied geen goeie vooruitsigte nie.
    Die Grondwet erken dat ons ’n gemeenskaplike stuk grond bewoon. Ons moet die hulpbronne en geleenthede met mekaar deel.
    Ons soek ’n pad uit die krisis, maar vind dit nie. Hoe vorentoe?
    Die tyd het gekom dat SuidAfrikaners van alle agtergronde die spreekwoordelike vlag van vrede, die wit vlag, hys. Nie as teken van mislukking nie, maar as teken van hoop. Ons moet by ’n punt kom waar almal saamstem dat vooroordeel, agterdog en vrees ons nie by ’n nuwe Suid Afrika gaan uitbring nie. Iets wesentlik moet verander.
    Baklei bring ons nêrens nie. Ons is moeg baklei. Daar het reeds te veel bloed gevloei.
    Daar kan nie meer wenners en verloorders wees nie. Soos in die huwelik, wen of verloor ons saam.
    So ’n lewenshouding vra vir radikale eerlikheid. Dis ’n spasie waar ons saam huil en saam droom. Dis ’n spasie waar ons ten minste probeer om die grofgeskut te bêre. Dis ’n spasie waar woorde wat kwes, verban word. Dis ’n spasie waar ons in ons gemeenskaplike mensheid ’n toekoms vind. Dis ’n radikale keuse vir vrede. Dit waak jaloers oor mekaar se belange. Dit weier om sleg van mekaar te glo.
    Dis ’n neerlê van wapens en ’n opneem van penne en potlode, ’n nadertrek van blaaiborde en kuier rondom tafels. Dit soek die ander se belang eerste en is bereid om soveel op te offer dat dit seermaak ter wille van vrede.
    Dis nie ’n teken van swakheid nie, maar van krag; nie van dwaasheid nie, maar van wysheid; nie van oorgee nie, maar van omgee. Vrede kos iets; trouens, dit kos alles.