Opwindende week agter die rug…

Die afgelope weke was opwindend om die minste te sê, veral wat die politieke toneel in Suid Afrika behels.
Die sg. “State of the Nation Address” asook debatte daarna is goed ontvang en daar was besondere momente. Die staatspresident het alle burgers in Suid Afrika uitgenooi om vennootskaplik deel te word van die nuwe hoofstuk in ons geskiedenis. Wat ek op TV gesien het, het getuig van ʼn heerlike ontspanne atmosfeer in die parlement, iets wat ons lank laas gesien het. Selfs die EFF het hul planne om die voordrag te laat ontspoor nie uitgevoer nie. Mnr. Ramaphosa gemaklik tussen Suid Afrikaners in Gugulethu terwyl hy stappenderwys hul uitnooi tot ʼn gesonder leefstyl is besonder mooi om te sien.
Ek dink die parlement verdien ʼn bietjie respek en vertrou dat veral die EFF nou hul kinderskoene ontgroei het. Mens gooi nie jou toys uit die kas as jy nie jou sin kry nie. Die EFF kan ook nou maar afsien van populistiese uitsprake wat niks meer doen as om ʼn klomp emosie los te maak. 
Toegegee, mnr. Zuma het die ergste in mense na vore gebring. Hy is egter geskiedenis en ek vertrou dat gesonde en energieke debatvoering voortaan verrigtinge sal kenmerk.
Die luide applous wat mnr. Ramaphosa tydens en na sy voordrag  ontvang het onderstreep die breë konsensus dat iets betekenisvol aan die gebeur is in ons land. Christene skryf dit uiteraard aan gebedsverhoring toe. Die Here het ons gehoor!
Dat daar sake is wat deursnee blankes veral onrustig stem is inderdaad so.
Op datum is die proses van grondonteiening sonder teenprestasie nie uitgespel nie. Ek wil glo dat dit weldeurdag sal wees en dat ʼn weg gevind sal word wat almal tegemoet kom.
Dat daar uitdagende tye voorlê is eweneens so. Die ongelykhede in ons samelewing moet op die een of ander wyse aangespreek word. Ons kan nie toelaat dat 3o miljoen mense krepeer en 18 miljoen beswaarlik genoeg het om van te leef nie.
Doodgewone medemenslikheid verbied dit. 
Toegegee, mnr. Zuma het sy eie mense oor jare stelselmatig verarm. Dit moet as ʼn sonde teen die mensdom klassifiseer word.
Wayne Duvenhage van OUTA  sê dat tot tussen 60 en 80 miljard rand per jaar verlore gegaan het vanweë die wye spektrum korrupsie en rampokkery wat plaasgevind het. Oor die jare wat mnr. Zuma en sy genote  die land regeer het het die land verarm en veragter. Dit is alles geld wat noodsaaklike opheffing kon finansier het. (Hopelik kan iets daarvan herwin word).
Dit het egter nie gebeur nie maar dit  help egter  nie om vinger te wys nie. Dit is water onder deur die brug soos iemand opgemerk het.
Feit van die saak is dat ʼn betekenisvolle deel van ons samelewing baie swaar kry. Dit help nie om te rasionaliseer nie. Daar is nie werk nie. Dus om mense aan te sê om soos ander te werk vir hulle geld is ongevoelig. Daar is nie altyd die nodige infrastruktuur nie. Baie landelike gebiede, ook stedelike gebiede, ontbreek aan doelmatige infrastruktuur. Gebrekkige dienslewering het al aanleiding gegee tot tientalle protesoptogte. Geskooldheid en vaardighede om kompeterend in die arbeidsmag mee te ding is ook nie daar nie. Die ongelykhede van die verlede asook die onderwysstelsel wat meer dikwels mank gaan aan innoverende bestuur maak nie vir goeie skoling nie.
Mens kan skree, veroordeel, veralgemeen, maar miljoene mense bly arm. Hul bly dikwels in omstandighede wat niemand hul beny nie.
Hoe wil die Here ons toerus en roep om by te dra tot die opheffing van daardie deel van ons samelewing?
Dis ʼn vraag wat individue, gemeentes en gemeenskappe hulself dringend moet afvra. Solank ʼn beduidende deel van ons bevolking in armoede leef gaan dit nie met enige van ons goed nie. Dit moet kollektief goed gaan ten einde met ons individueel goed te gaan. 
Ek is daarvan oortuig dat tensy en totdat redelike Suid Afrikaners armoede en werkloosheid as die nr. een vyand in Suid Afrika identifiseer, nie veel sal verander nie. Ons kan nie op ʼn afstand ʼn “sit en wag” houding inneem nie. Ons sal in eie kring, gemeentes veral, gonsgroepe op die been moet kry wat “brainstorm” en buite die gewone verwysingsraamwerk dink oor hierdie probleem en dan iets daaraan doen.
Armoede moet ONS probleem word. 
Dit moet soos ʼn  bedreigende tornado beskou word, hoog op geklassifiseer word in terme van die intensiteit daarvan en gebeurlikheidsplanne moet in plek kom.
Dit alles begin op ons knieë voor ʼn innoverende Skeppergod. Hy weet hoe, ons moet net fyn luister en dit gaan doen.
Mnr. Malusi Gigaba se begrotingsraamwerk kom te midde van hierdie werklikhede. Terwyl verskillende sosiale en maatskaplike toelaes verhoog is het die AVB koers na 15% gestyg. Bitter min produkte is daarvan vrygestel, ver nie genoeg om selfs ʼn basiese dieet vir minderbevoorregtes toeganklik te maak nie. Ook persoonlike belasting is verhoog maar ons het dit tog vermoed. Die uitdagings is groot en ons sal nou moet saamwerk. Die begroting is goed ontvang as na die markte gekyk word.
Toe die onderhoudsvoerder vir mnr. Gigaba vra of die voordrag sy swanesang was met verwysing na bespiegelinge dat mnr Ramaphosa mnr Gigaba in ʼn ander hoedanigheid gaan ontplooi het hy gesê dat hy daar is om die staatspresident te dien ( I serve at the pleasure of the president). Dit het my laat dink aan ons as gelowiges. Onthou ons en reken ons met die waarheid dat ons “serve at the pleasure of the King of Kings”. Hy ontplooi hoe waar en wanneer Hy wil, ook wie Hy wil. Aan die einde van die dag is dit meer as genoeg om hoegenaamd oorweeg te word vir sy werk. 
Groete
Jannie Pelser