Op arendsvlerke

Deut.32: 11
Soos ‘n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ‘n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ‘n ander god by Hom nie.

Deut.1:6 6
“Die Here ons God het by Horeb vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly.

Die arend is ʼn merkwaardige voël. Om ʼn arend op die wieke van die wind te sien sweef is ʼn pragtige gesig. Die arend is flink, akkuraat en koninklik.

Een van die interessanthede van die arend is dat hy sy kleintjies, wanneer dit tyd geword het om te vlieg, letterlik uit die nes uitskop. Die outjie is heerlik veilig in die nes en het net begin vrede maak dat ʼn lewe van aanlê en eet, rus en geniet vir hom voorlê. Solank ma en pa sorg is daar geen kommer nie.

Wat die kleintjie nie besef nie is dat daar ʼn DNA in hom aanwesig is wat net wag om te ontwaak. Sy ouers weet wanneer dit die aangewese tyd is. Berekend word die kleintjie aan vryval blootgestel terwyl ek kan hoor hoe mamma agterna gil “sprei en klap jou vlerke, jy kán vlieg my kind”.

Telkemale duik die volwasse arend onder die kleintjie in en keer dat die homself morsdood val. Liefdevol, dalk effe geïrriteerd, word die kleintjie na die nes teruggeneem terwyl daar hard gepraat en gepreek word. “Sprei en klap jou vlerkies, dis waarvoor die Here dit gegee het”.

As boetie eers eenmaal die vryheid van onafhanklike vlug gesmaak het, is daar geen keer nie.

Die volk van die Here kry opdrag om te trek nadat hulle vir ʼn tyd lank by Horeb vertoef het. Die beloofde land lê voor. Tussenin, die onbekende en gevaarlike woestyn.

“Kom aan die beweeg” sê God. “Breek kamp af, die wolk en vuurkolom beweeg. As julle hier bly is julle op jul eie. Ek is op pad na die beloofde land. Gaan julle saam of bly julle?”

Dis dalk nou tyd vir uit die nes kom vir jou, kamp opbreek en verder trek.

God sal jou vang, op arendsvlerke, totdat jy geleer vlieg het.