Ons is nie almal so nie

Ons is nie almal so nie

GENESIS 1:26aToe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld

Ons leef in uitdagende tye. Dit word oor en oor gesê en is sonder twyfel waar. Die goed wat rondom ons gebeur maak ons meermale boos, hartseer, ontsteld en kwaad. Dis asof ʼn golf van geweld oor ons land gebreek het. Die omvang van geweldsmisdaad is kommerwekkend en iewers lees ek dat dit (jare terug al) vyf keer die wêreld gemiddelde is. Daar is bykans nie ʼn huishouding wat nie op een of ander manier deur misdaad en geweld geraak is nie.
Ons demografie maak dat ʼn mens die afleiding kan maak dat dit een groep is wat konsekwent geweld teenoor ʼn ander groep pleeg. Dis uiteraard nie waar nie. Demografies is ons as Afrikaans-sprekendes, vir doeleindes van hierdie blog, witmense, by verre in die minderheid. Tans maak ons in die omgewing van 6.5% van die meer as 55 miljoen inwoners in Suid Afrika uit. Uiteraard sal dit wat betrokkenheid by geweld betref die insidensie daarvan na een kant toe kleur. Die waarheid is dat geweld nie diskrimineer nie. Almal is en word daarvan prooi. Ons hoor net nie altyd van geweld in Soweto, Alexandra ens. nie. Ons is wel deeglik bewus van bende geweld op die Kaapse vlakte.
Geweldenaars moet met die volle impak van die reg gekonfronteer word. Ongelukkig gebeur dit nie altyd nie en is die mense wat ons moet beskerm somtyds self aandadig. Dis so hartseer.
Die gevaar is groot dat ons na mekaar kyk en met ʼn kam almal gelyk skeer. Alle witmense is kapitaliste en alle swart mense is …
Die waarheid is egter dat die oorgrote meerderheid mense in ons land ʼn gesonde en veilige omgewing begeer waar kinders kan groot word en mense hul Godgegewe potensiaal kan bereik.
Moenie toegee aan geweld in ons eie harte nie. Om mense te stereotipeer is geweld van ʼn ander soort. Kom ons bly uitkyk vir die mooi in mense. Daar is nog baie daarvan.

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}
span.s2 {font: 14.7px ‘Century Gothic’; font-kerning: none}