“Nou kan ons nog net bid”

Waar hou die mens se vermoë op en waar moet God oorneem? Hoeveel menslike pogings voordat die Here gevra word om in te gryp?
Mens hoor dikwels dat mense sê, “nou kan ons nog net bid. Ons het (die dokters het) alles probeer. Nou moet die Here help”.
Dis onsinnig as ons eers verstaan dat ons in álles radikaal en totaal op God aangewese is. Ons kan selfs nie eers asem haal sonder Hom nie.
Gebed is nie die “laaste” uitweg nie. Gebed is die vertrekpunt. Dis ʼn gelowige se grondhouding. Dis afhanklik leef, altyd en in alles.
So gesien staan ook die dokter in diens van God. God genees “middellik” en “onmiddellik”. Hy gebruik geneeskundiges en deel sy goeie gawes so met mense. Sy beloftes van genesing word net so gedemonstreer wanneer geneeskunde betrokke is, as daarsonder. 
Somtyds en vir sy eie redes, maak Hy gesond sonder die betrokkenheid van die mediese wetenskap of selfs wanneer hulle skouerophalend handdoek ingooi.
Geneeskundiges is net mense en die wetenskap altyd op soek na antwoorde. Daarom moet ons ook bid vir mediese navorsing en deurbrake. Dit is alles deel van God se gawes en sorg. Dis ook deel van die mense se skeppingsopdrag.
Dis nie ʼn kwessie van, wanneer die dokters “opgee”, kan God oorneem nie.
Dis God, al die pad, altyd en sonder ophou. 
Dalk aan jou belydenis werk?