Nou ja, nog ʼn week is bykans verby.

Nou ja, nog ʼn week is bykans verby. Terloops, baie dankie vir die geleentheid om so saam te kuier. Onthou, jy is kosbaar in God se oë.

Alle mense is kosbaar in God se oë. Jou buurman, kollega, besigheidsvennoot, mede student, spanmaat en tuisteskepper is kosbaar in sy oë.

JESAJA 43:4

Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.

Afrikaanssprekendes is kosbaar in God se oë. Tswana, Zoeloe, Engels, Venda, Sotho, Ndebele, so kan ons aangaan, is kosbaar in sy oë.

Wit mense is kosbaar. Swart mense, bruin mense, alle mense is kosbaar in sy oë.

Al hierdie kategorieë van mense is mensgemaakte konstrukte. God dink nie so oor ons nie. Hy ken gelowige en nog nie gelowige mense en ook hulle is kosbaar in sy oë.

Alles alles is genade

Onverdiende guns alleen.

Inderdaad.

Die Wêreldbeker Springbok rugbyspan is aangekondig met die woorde (hashtag) #StrongerTogether”. In Afrikaans (hutsmerk) #SterkerSaam.

Die waarheid dat ons meer is as ons saamstaan en minder as ons verdeeld is, is ʼn sentrale tema in die Bybel. Ek herinner jou aan die bekende Psalm – dit is goed as broers in eenheid saamwoon. Soos die olie wat van Aaron se baard tot op die some van sy klere loop. Olie is ʼn metafoor van die seën wat eenheid bring.

Sport is nie wêrelds en geloof geestelik nie. Ons leef nie in twee wêrelde, ʼn spirituele en ʼn wêreldse nie. Ons is behoort aan die Here. Hy is in ons en ons is in Hom. Waar ons gaan en waarmee ons besig is het alles met Hom te doen. Hy stel net soveel belang in al die aspekte van ons lewens as wat ons daarin belangstel. Hy onttrek nie wanneer ons nie in die kerk, Bybelstudiegroep, met teologiese studies of ʼn sinode sitting is asof die ander goed benede Hom of minder belangrik is nie.

Ons kan ʼn rugbywedstryd, boksgeveg, die oopsluit van ons winkel, net voor ʼn operasie, die intimiteit van die liefde, my kind se verjaardagpartytjie, die opening van die basaar, die motorwedren of wegspring by die Comrades luidkeels sing –

God is hier teenwoordig

Laat ons biddend nader

Hier waar ons voor Hom vergader

God is in sy tempel

Hemelpoorte lewe

Almal buig voor Hom wat lewe.

Die onverwagse dood van mnr Gavin Watson voormalige Bosasa hoof maak ʼn mens net weer bewus van die kortstondigheid van die lewe. Daar is allerlei samesweringsteorieë oor sy brutale dood en forensiese deskundiges rekonstrueer die gebeure van daardie dag ten einde klarigheid te kry. Die media sê dat hy na sy graf is met die antwoorde van tientalle vrae wat gevra is en sou word. Ons is almal mense en hartseer raak ons almal. Mag sy familie troos belewe.

Mnr Ramaphosa verklaar dat Suid Afrika se geld op is. Tong in die kies wil ek se dat dit al lankal van my waar is. Waarskynlik van ʼn hele aantal van ons luisteraars. Die tragiese werklikheid is egter dat onbedagsame en kriminele elemente die land op die rand van die afgrond gedryf het. Daar word gepraat van “corruption fatigue”. Mens kan net soveel hoor en dan is jy versadig.

Ons is teen die planke met getuienis wat onder andere by die Zondo kommissie gelewer word. Daar is mense in amptelike posisies wat te midde van bewyse steeds besluite maak wat die lewens van alle Suid Afrikaners raak. Ons is in die skuld en die terugbetaling moet nou begin deur mense wat Suid Afrika skaamteloos beroof het. Dit is eers dan dat ons sal glo dat geregtigheid nog in Suid Afrika geskied.

Vroue maand lê amper agter ons. Ons het die hoogste waardering vir die merkwaardige rol wat vroue in die geskiedenis van ons land gespeel het en steeds speel. Mag vroue hul plek toenemend inneem om met hul besondere aanvoeling by te dra tot die genesing van Suid Afrika.

Ten slotte

Sondag is lentedag. Oral is nuwe lewe te bespeur. Mag die nuwe lewe in jou opborrel soos ʼn fontein. Jesus se wie in Hom glo sal lewenswater na vore bring. Die liedjie sê

Dit borrel in my want ek is so bly

Jesus het my (ons) lief

Vir my (ons) het Hy gesterf en gered van bederf

Ja, Jesus het my (ons) lief.

PSALMS 36:8

Hoe kosbaar is u trou, o God! U beskerm die mense wat by U skuil