Nooit so alleen

Die teksgedeelte waar Jesus homself in die tuin van Getsemane bevind is aangrypend en tekenend van ons eie eensaamheid te midde van aanvegtinge en trauma.
Jesus weet dat die kruisdood op Hom wag en omdat Hy volledig mens is worstel Hy met die gedagte. Die vernedering en mishandeling wat voorlê is nie iets waarna enige mens sou uitsien nie. Soveel te meer omdat Hy sonder sonde is en as onskuldige moet boet vir die halsstarrige onverskilligheid en selfs misdadigheid van mense wat dit nooit kan verdien nie. Hy sterf selfs vir die spotters.
Hy neem sy drie vertrouelinge met Hom saam en vra dat hulle sal waak en bid terwyl Hy ʼn entjie verder op sy aangesig neersak en die Vader vra dat die beker by Hom sal verby gaan.
As Hy terugkeer vind Hy die dissipels aan die slaap. Hy roep hulle weer ʼn keer om te waak en te bid maar as Hy terugkeer vind Hy hulle weer aan die slaap.

Daar is uitsonderlike mense rondom die meeste van ons. Dit is egter so dat ons somtyds doodgewoon alleen is met ons sorge en hartseer. Alleen behalwe dat God die Vader daar is en meer as gewillig is om te luister en te troos.

Ken jy die alleenheid waarvan die teksgedeelte praat?
Ek is seker jy was ook al op die plek waar jy selfs al sou mense luister nie die vrymoedigheid het om jou gedagtes met hulle te deel nie.
Dis te pynlik, te intens, selfs te skokkend.
Dan is dit net jy en God.

Immanuel.
God met ons, en met jou.

Matt 26:38 38 
“…en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”
Deel gerus met ander mense. Dit mag juis vandag vir hulle iets beteken.