Niks bang nie

Ek is mal oor daardie pragtige Hoephoep voëltjies wat swaweltjies diep in die grond in boor ten einde iets te ete te kry. Ek wonder hoeveel bekkies het al stomp afgebreek met die grond wat tans so hard is vanweë die versengende hitte en droogte. Ek verneem juis dat die Vaaldam minder as 50% vol is en dat Gautengers spaarsamig met die noodsaaklike item moet werk. Dag zero is vars in die geheue met verwysing na die langdurige droë toestande in die suid en wes Kaap. Mens se hart breek as jy hoor van diere wat van honger en dors vrek, boere wat plase verlaat en bankrotskap in die oë staar. Mag die Here vir ons uitkoms gee, in Jesus se Naam.

Maar terug by die Hoephoep om ons sypaadjie vanoggend. Toe ek op pad ateljee toe my motor by die hek uittrek kyk die voëltjie vir ʼn enkele oomblik op en gaan daarna ongestoord voort met sy dagtaak. Ek sou dink dat die vreemde bewegende voorwerp hom sou ontsenu en sou laat wegvlug. Dit was asof die voëltjie besluit het dat die bedreiging hom nie gaan intimideer nie. Wonder stellig of hy by homself gedink het, “kom net ʼn bietjie nader en ek boor ʼn paar gate in jou romp”.

Die hele petalje het my laat dink aan hoe ons deur omstandighede geïntimideer word. Met die jongste verskyning daarvan vlieg ons benoud weg. Ek herinner my dat ek meer as ʼn oorwinnaar is ongeag wat op my pad kom, dat my naam geskryf is in die boek van die lewe en van die Lam.

Dat ek in Jesus Naam niks het om te vrees nie, ongeag hoe bedreigend omstandighede mag voorkom. Ek kan bykans ongestoord voortgaan met die taak voorhande terwyl ek myself koester in sy genade, beloftes, omgee en getrouheid.

Lekker boor vandag, moenie jou laat ontsenu nie.
In Hom